Date: 22 Maart 2020

Teksgedeelte:Openbaring 1 |

WELLINGTON DIGI-EREDIENS – 22 MAART 2020

LEEF ONS IN EINDTYE?  LESSE UIT OPENBARING

DS BENNIE JANSE VAN RENSBURG

Skriflesing:  Openbaring 1 :1-6

Broeders en susters – goeie môre …

Ek dink die meeste van is ons nog verbyster oor die afgelope tyd se gebeure oor hoe ‘n onsigbare virus die hele wêreld op sy kop gekeer het.  Ons het net weer besef hoe broos en hoe kwesbaar ons is en hopelik dwing dit ons om weer in afhanklikheid van God te begin leef.  Om te besef te glo en te weet dat ons die Here meer nodig het as enige iets of enige iemand anders.

Ongelukkig is ‘n tyd soos hierdie, ook ‘n tyd van suspisie, ‘n tyd van samesweringsteorieë van gelowiges en christene wat ongelukkige uitsprake maak soos “dat God die wêreld veroordeel of sekere mense veroordeel of sekere mense straf”  en selfs uitsprake soos “as ek ‘n christen is en ek glo, sal die virus nie by my uitkom nie” – ek dink dit is baie onverantwoordelik en dit is juis hoekom ‘n ateïs soos Christopher Hitshens op ‘n stadium gesê het hy verag die Christendom, want die Christendom is net sò boos soos wat die Nazi’s was – waar die Nazi’s se “final solution” vir die wêreld was dat die Jode uitgewis moet word…sê hy dat christene se “final solution” vir hierdie wêreld is dat al die sondaars en al die mense uitgewis moet word sodat hulle hul nuwe ryk en koninkryk kan kry.

Nou ons weet dit is glad nie die waarheid nie;  ons weet dat dit glad nie God se bedoeling is nie en die vraag op elkeen van ons se harte en lippe is ook – wat sê die Bybel?  Watter perspektief kry ons vanuit die Woord en dan spesifiek ook ‘n boek soos “Openbaring” wat juis geskryf is in moeilike omstandighede - 95 n.c.;  waar die christene wreed vervolg is deur die Romeine en waar hierdie boodskap na hulle toe gaan as ‘n boodskap van waarskuwing aan die eenkant, om te volhard in die geloof, maar ook ‘n boodskap van troos dat hulle in die Here se hande is, dat die Here by hulle is – kom ons kyk hoe dat Openbaring en God se woord ook vir ons vandag ‘n uitsig gee op die toekoms en tegelyke tyd’n  insig in die hede wat hier aan die gebeur is.

Ek dink elke dominee se vrees is om vir leë banke te preek, maar daar is ook ‘n stukkie ironie vandag – ek dink dat die kanse dat hierdie boodskap deur baie meer mense gehoor en gesien gaan word, is baie goed as wat die net ‘n gewone erediens was. So moeilike tye soos hierdie, bring ook weer nuwe wonderlike geleenthede.

Ek dink die Woord gee vir ons 4 perspektiewe;  4 dinge  waaraan ons kan vashou:

Die eerste ding wat ons moet weet en moet verstaan is dat:

Sonde het van die wêreld ‘n stukkende en gebroke plek gemaak. God het die wêreld goed geskape;  God het die mens goed geskape en aan die mens ‘n vrye wil gegee, maar aan die begin het ons as mense gekies vir sonde;  teen God,  en daarom het ons van hierdie wêreld ‘n stukkende en gebroke plek gemaak. – ‘n Plek waar die dood sy ingang gekry het, siekte, pyn, hartseer, oorlog, nood, leed het ewig deel geword van hierdie stukkende en gebroke wêreld.  Dis die eerste ding wat ons moet weet en verstaan.

Ten tweede, God het nie die wêreld aan homself oorgelaat nie; God het weer eens “ja” gesê vir die wêreld en Hy het gekies en besluit om Sy seun Jesus Christus te stuur om die wêreld te kom red en te kom verlos van die sonde, die dood die pyn die siekte die nood.   En dit vier ons juis in hierdie Lydenstyd – dat God “ja” gesê het vir hierdie wêreld;  dat Jesus “ja” gese het by Golgota toe Hy aan die kruis gesterf het – in jou en in my plek – dat hy vir ons gesterf het as ‘n verlore sondaar, dat hy letterlik ter helle neergedaal het , dat hy letterlik in my en in jou plek die dood gesterf het van ‘n verlore sondaar sodat ons deel kan kry in die ware lewe.  Hy het die volle prys betaal vir ons skuld en sonde;  die deure van die hel het letterlik vir hom oopgemaak sodat dit vir ons toegemaak kan word.  Hy moes aan die kruis uitroep:  “My God, my God, waarom het U my verlaat?” sodat jy en ek nooit weer deur God verlaat sal word nie.

Die 3de perspektief wat die Woord vir ons gee en wat ons moet vestaan is dat ons leef in die eindtye – Die Bybel praat van die eindtye - dan is dit die tyd tussen Jesus se eerste koms en sy wederkoms;  die tyd tussen sy eerste oorwinning oor die dood en oor die sonde op Golgota en die finale gewaarborgde oorwinning wanneer Hy weer kom by Armagedon wat ook in Openbaring beskryf word.  Ons leef in die tyd waarin God se koninkryk in Jesus Christus gekom het, maar ook oppad is.  Ons praat van die “alreeds van die koninkryk en die nog nie” – so hierdie eindtye is eintlik die tussentyd – dis die tyd waarin God in beheer is – Openbaring sê God sit op sy troon en Jesus is aan sy regterhand besig om die wêreld te regeer volgens die meesterplan van God,  die ewige raadsplanne van God.  En hierdie tyd waarin ons dan nou leef, hierdie eindtye is ook die tyd van God se genade.  Dis die tyd waar God se genade aan almal uitgedra en verkondig moet word en dis die roeping van die kerk.  God se genade-tyd is ‘n geleentheidstyd – dis die tyd waarin ons die oorwinningsvlae moet gaan plant – dis die tyd waar ons draers van hoop moet wees, draers van God se genade, van God se Liefde en nie die draers van oordeel en van veroordeling nie.  Dis waartoe die kerk geroep word in hierdie tyd.  Dit is so dat Openbaring ook praat van dat in hierdie tyd dat daar sekere dinge sal gebeur – daar is sekere tekens in hierdie tyd waarna Jesus ook verwys in
Matteus 24, Lukas 21, Markus 13 – die sogenaamde “tekens van die tye” – wat eintlik maar twee boodskappe bring  - die een van ‘waarsku’ en die ander een is ‘troos’.

Waarsku - dat die wêreldgeskiedenis is iewers  tussen 11:55 en 12:00 – die tyd is min, maar daar is nog tyd;  daar is nog kans om dit wat Jesus Christus kom doen het aan te neem en toe te eien.  Om God se genade te gryp en aan te neem.  En juis ons as kerk moet hierdie boodskap uitdra en verkondig.  Die troos is dat hierdie moeilike tye nie vir ewig gaan aanhou nie – die Here is met ons oppad na ‘n beter en ‘n nuwe wêreld.  En dit is juis hierdie wonderlike boodskap van troos en van liefde wat die kerk ook in hierdie tyd moet uitdra.  En wanneer die Bybel praat van goed wat gaan gebeur, hierdie tekens van oorloë, gerugte van oorloë, van hongersnood, van peste, van bloedvergieting, van geweld, dinge wat die aarde raak, dinge wat die hemelruim raak, dinge wat die waters raak, dinge wat die see raak, dinge wat mense raak – dan is dit einltik maar God wat hierdie dinge gebruik om ons wil ek amper sê op ‘n moeilike en seer wyse tot bekering te roep. Want hierdie dinge wat gebeur,  is eintlik maar God wat ons aan onsself oorgee – aan ons eie sondigheid, aan ons eie hebsug, aan ons eie vergrype – dis maar eintlik wat aan die gebeur is – want alles wat in die wêreld aan die gebeur is, die besoedeling, die water ,die see, die peste, die kwale, is einltik maar gevolge van ons eie vergrype, van die “eie ek”, van ons eie hebsug – en God gee ons by wyse van spreke eintlik maar oor aan onsself.

Maar terselfdetyd is dit ‘n oproep tot bekering;  daar is nog tyd, dit is nog ‘n geleentheid.  En daarom is die boodskap van die kerk in hierdie tyd nie een van veroordeling nie, want as God moes veroordeel;  as God ons moes staf vir alles, dan moes dalk Hy maar by jou en my begin het.

So kom ons wees draers van hoop, draers van God se genade, draers van sy oorwinning, draers van sy Liefde in hierdie moeilike tyd waarin ons leef.

Ek dink die 4de ding/perspektief waaraan ons kan vashou, is dat die Woord ook vir ons sê dat hierdie krisis sal ook verby gaan.  God se troos is daar vir ons, Hy is teenwoordig in hierdie krisis, Hy is by ons;  Hy roep ons juis om  in hierdie tyd opnuut weer in afhanklikheid van Hom te leef.  Om opnuut weer ‘n keuse te maak vir geloof;  geloof is om te weet – Hy is by ons;  ons tyd  en tye is in Sy hande – Sy genade en liefde is vir ons genoeg en ons moet juis dit gaan uitleef en gaan uitdra in die stukkende wêreld daarbuite.  Die Here roep vir ons in hierdie tyd om miskien die fokus te plaas minder op die erediens, en meer op diens - om betrokke te raak by die nood;  te kyk na die “Lasarusse” wat op jou stoep lê.  Die kanse wat jy het om in hierdie krisis ook ‘n positiewe verskil te maak – om te gaan doen wat jy kan, waar jy is, met wat jy het.  Ek dink die Here roep ons in hierdie tyd om absoluut verantwoordelik op te tree, om die reëls wat die regering daargestel het, na te kom;  om nie na alle stories te luister wat versprei word nie – om die draer te wees van die goeie nuus en nie van fop-nuus nie, om draer te wees van God se genade;  nie van oordeel nie, om iemand te wees wat vrede bring en nie vrees nie.  Ek dink dit is juis waartoe die Here vir ons as kerk roep en juis in hierdie tyd het die Here vir ons brieke gegee – om vir ons tot stilstand te bring – gee die Here vir ons ekstra tyd, meer tyd om te spandeer aan ons gesinne en familie;  meer tyd om deur te bring met Hom met sy Woord in ons binnekamer.  So ja – dit is ‘n swaar tyd, dit is ‘n moeilike tyd, dit is ‘n tyd met besonderse uitdagings, maar dit is ook ‘n tyd met wonderlike geleenthede – ‘n tyd waar ons weet ons behoort aan die Here.  Ons is in Sy hande – Hy is met hierdie wêreld oppad.  Hy is met ons oppad en Hy wil vir ons as kerk hierdie tyd op ‘n nuwe en besonderse manier gebruik om ‘n positiewe verskil te maak in ‘n stukkende en gebroke wêreld. Ek bid die Here se seën en almag oor u elkeen en word en wees ‘n instrument  in Sy hand in hierdie tyd om ‘n positiewe boodskap en verskil te maak deur jou dade -

Amen