10 April 2020

WELLINGTON DIGI-DIENS | Die Sewe Wonders van Jesus se kruisiging (audio) | Matteus 27: 45-54

Teksgedeelte: Matteus 27: 45-54
Hier is 'n uitreksel uit die Nagmaalsformulier:
DIE WESE VAN DIE NAGMAAL
Die nagmaal is in sy wese ’n verbondsmaaltyd, waar die verbinding tussen Christus en Sy gemeente telkens vernuwe word. As verbondsmaaltyd het dit die volgende betekenisse:
1. Die nagmaal is in die eerste plek ’n gedagtenismaaltyd. Die Here het by die instelling van die nagmaal gesê: “Gebruik dit tot my gedagtenis.” (Luk 22:19). In die nagmaal oordink en verkondig ons die dood van die Here. By die aanskouing van brood en wyn roep die gemeente hom die hele lydensweg van Jesus Christus voor die gees: hoe Hy Sy lewe gegee het; hoe Hy soos 'n koringkorrel in die grond geval en gesterf het; hoe Hy die lydensbeker gedrink het; hoe Hy van God verlate was en uitgeroep het: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” (Mark 15:34), sodat ons nooit deur God verlaat sal word nie.
2. Die nagmaal is in die tweede plek ’n waarborg. Daarom sê Hy: “Dit is my liggaam” en “Dit is my bloed” (Matt 26:26, 28). So seker as vir elkeen hierdie brood voor Sy oë gebreek word, en hierdie beker aan hom gegee word en ons dit met die mond eet en drink, so seker het ons deel aan Christus, aan Sy sterwe en opstanding. Hierdeur waarborg Hy Sy soenverdienste vir ons so volledig asof ons self voor God gestaan het, self die straf vir ons sonde gedra het, self daarvoor gesterf en opgestaan en ons geregtigheid voor God verwerf het. Die sekerheid wat hierdie waarborg ons gee, is nie gegrond op ons gevoelens of stemminge nie, maar op die tekens uit die hand van die Here; dit is in die Here self gevestig.
3. Die nagmaal is in die derde plek die viering van die gemeenskap met die lewende Here en met mekaar. Die nagmaal verbind ons nie net met Sy dood nie, maar help ons om in die gemeenskap met Hom te lewe. Deur die Heilige Gees is die lewende Christus in die nagmaal by ons teenwoordig. Verder word ons deur dieselfde Gees ook weer met mekaar as lidmate van een liggaam, in broederlike liefde saam verbind, soos die apostel sê: “Omdat dit een brood is, is ons, al is ons baie, saam een liggaam, want ons het almal deel aan die brood.” (1 Kor 10:17).
4. Die nagmaal is in die vierde plek ’n verkondiging van ons toekomsverwagting. Ons het in die nagmaal die versekering dat die Here een met ons is. Tog kyk die gemeente hiermee ook vooruit na Sy wederkoms, en verkondig daarmee die dood van die Here totdat Hy kom. Deur die nagmaal strek ons ons uit na die dag wanneer Christus in heerlikheid sal verskyn en alles tot volheid sal bring, die dag wanneer Hy die hemel en die aarde nuut sal maak sodat geregtigheid daarin kan woon - en “God alles ... vir alles” kan wees. In die nagmaal verlang die bruid van Christus na die bruilofsmaaltyd van die Lam (1 Kor 15:28).
5. Die nagmaal is in die vyfde plek ’n vreugdefees. Al spreek die tekens van die lyding en sterwe van Jesus Christus van Sy kruis, Sy bloed wat vergiet is en Sy liggaam wat gebreek is, staan die Nagmaalsviering nie in die teken van rou en droefheid nie. Hoewel die gemeente die nagmaal met gewyde erns vier, is dit tog ’n vreugdefees, waar die Heiland op ’n besondere manier die vrugte van Sy lyding, sterwe en opstanding uitdeel. In die nagmaalsfees mag die gemeente nou van die vreugde smaak wat vir ons wag by die bruilofsmaaltyd van die Lam.
6. Uit dit alles blyk duidelik dat die nagmaal ten slotte ’n fees van dankbaarheid is. Die Heilige Gees verseker ons deur die tekens van brood en wyn van die heil wat ons in Christus deelagtig is.

Download Files Notes

Go to Top