29 Maart 2020

WELLINGTON DIGI-DIENS | Hopeloosheid se geleentheid (lees) | Esegiël 37

Prediker:
Teksgedeelte: Esegiël 37

Wellington Digi-diens 29 Maart 2020
Teks: Esegiël 37:1-14 Hopeloosheid is ’n geleentheid

Inleiding:

Hallo almal en baie welkom by Wellington se digi-diens vir hierdie Sondag. Ons weet dat die Here elkeen van ons wil ontmoet, daar waar ons is, soos ons is en my gebed is dat ons in hierdie tye, opnuut weer die Here sal hoor op ’n unieke manier.
Ons is in die eerste week van inperking, maar in die kerkjaar in die vyfde week van Lydenstyd. Ons teksgedeelte vanoggend is Esegiël 37:1-14. Voordat ons gaan saam lees, wil ek vra dat ....... vir ons sal open met gebed.

Sondag stilte:

Ek weet nie van julle nie, maar hierdie Sondag wat verby is, het ’n blywende indruk op my gemaak. Waar ek die oggend gewoonlik sou opstaan om te preek, het ek nie, waar die dorp weerklink het met kerkklokke, het dit ook nie gebeur nie. Die kerk was leeg en daar het ’n byna dood stilte in die atmosfeer gehang.
Die omstandighede wat ons hierdie gedeelte lees is ook nie ideaal nie: Israel is verslaan en in ballingskap weggevoer, die tempel is afgebrand en Jerusalem verwoes – alles wat vir Israel kosbaar en belangrik was, is vernietig. In Israel se oë het Babilonië selfs vir God uitoorlê – dit was regtig ’n hopelose situasie waarin niemand wou wees nie. Dit is hoekom ons in Esegiël 37 lees dat die profeet na ’n laagte vol beendere gebring word – die beeld is letterlik ’n slagveld!
Dan kom die opdrag: die Here beveel hom om vir hierdie beendere te profeteer. Ek dink Esegiël sou met enige predikant verlede Sondag vereenselwig. Om vir beendere te profeteer is net so goed jy preek vir ’n leë kerkgebou. Daar is niemand wat jou kan hoor vir wie dit kan baat nie. Alhoewel Esegiël aanvanklik huiwerig is, is hy gehoorsaam en hy profeteer vir hierdie beendere – en daar gebeur ’n wonderwerk: die beendere beweeg na mekaar toe, kry vleis en word mens, die gees van God maak hulle lewend; hulle word weer herstel.

Drie punte om in ag te neem:

Die omstandighede waarin ons onsself bevind, voel vreemd en is uitdagend. Wanneer ons na die nuus kyk, hoor watter maatreëls ingestel is, dan is hopeloosheid dalk jou ervaring vanoggend of dalk is jy angstig oor die volgende drie weke. Hopeloosheid is egter ’n geleentheid wat ons moet aangryp. Daar is drie geleenthede waarvan ons bewus moet wees:

1. Hopeloosheid is ’n geleentheid dat God deur sy Gees werk:
Dit is God se ruag, sy Gees, wat lewe in hierdie dooie laagte geblaas het. In die onsekere tyd wat ons ingaan en in hopelose situasies, werk die Here ook deur sy Gees. Israel se klag was juis dat hulle “bene uitgedroog is, dat hulle geen hoop meer het nie.” Alles is van hulle af weggevat.
Ons vryheid word in hierdie tyd ingeperk, mense word in hulle huise vasgevang deur die staat van inperking. Maar Esegiël getuig van God wat juis in sulke situasies, wondere verrig in mense se lewens. God kom verras ons dikwels in tye wat dit lyk asof daar geen uitkoms is nie.

2. Hopeloosheid is ’n geleentheid waar God ons wil gebruik:
Esegiël kyk nie net toe hoe al hierdie dinge gebeur nie, hierdie dinge gebeur nadat hy gehoorsaam is aan die Here se opdrag. Dit beteken dat ek en jy gestuur word na die slagveld toe, want die Here wil elkeen van ons gebruik. In hierdie omstandighede word ons gedwing om op kreatiewe maniere gestuur te wees, want ons kan nie eintlik baie rondbeweeg nie. Maar dit beteken nie dat die Here ons nie wil gebruik nie.
Daar is al so baie inisiatiewe wat op verskeie maniere wil dien in hierdie tyd, veral teenoor bejaardes, gesondheidswerkers en haweloses. Daar is soveel geleenthede op sosiale media en Whatsapp wat ons werklik mekaar kan ondersteun en steeds iets in mense se lewens kan beteken. Kom ons gryp hierdie geleenthede aan.

3. Hopeloosheid is ’n geleentheid om te vertrou:
Dit is ’n geleentheid om te vertrou dat God in ons omstandighede steeds regeer, steeds op die troon sit, al wonder ons of Hy nog in beheer is. Selfs in een van die slegste situasies in die geskiedenis van Israel, waar dit lyk asof daar geen ommekeer kon kom nie, belowe God weer herstel, dat Hy nie verslaan is nie en dat Hy steeds betrokke is in die wêreld, al lyk dit hoe donker. Ons sien dit oor en oor, selfs in die Nuwe Testament wanneer Jesus siekes genees, Lasarus uit die dood laat opstaan en self die dood oorwin.

Slot:

Vriende, mag ons in hierdie tyd opnuut vertrou, mag ons God se Gees steeds sien werk in ’n donker wêreld en mag God ons kreatief in die wêreld gebruik tot opbou en uitbou van Sy koninkryk.

Go to Top