19 April 2020

WELLINGTON DIGI-DIENS | Jy is meer as ‘n oorwinnaar (lees) | Romeine 8:31-37

Prediker:
Teksgedeelte: Romeine 8:31-37

Romeine 8:31-37 – JY IS MEER AS ‘N OORWINNAAR

Einde laasjaar het ons die Rugby Wêreldbeker gevier. Ons het die oorwinning oor Engeland behaal. Die vreugde vure het vir lank hoog gebrand in ons land. Ons is 'n paar maande later. Wat ervaar ons te midde van die tyd van inperking. Ervaar ons vreugde? Voel ons ons is besig om die oorwinning te behaal oor kwessies in ons lewe. Is ons besig om die stryd te wen en die oormag te behaal oor sekere uitdagings? Besighede voel hulle is net besig om te verloor. Geen inkomste. Hoe moet ons ons mense betaal? Mense leef met die onsekerheid van hulle salarisse. Mense sê ons land gaan ekonomies nie hierdie tydperk oorleef nie. Binne gemeentes is daar 'n stryd van finansiële oorlewing.

Broers en susters ons het sopas Paasnaweek gevier. Wat het ons gevier? Jesus het die oorwinning aan die kruis oor die mag van sonde behaal. Hy het die oorwinning oor die dood behaal. Hy verskyn aan talle mense na sy dood. Hy sê vir hulle kyk na die tekens aan my liggaam. Ek leef, Ek is met julle tot die voleinding van die wêreld.

"Wat nou? Ek weet Jesus het vir my die oorwinning aan die kruis behaal. Maar wat van my huidige stryd? Waar is die oorwinning vir die stryd wat tans in my lewe woed?"

Ons staan stil by die gedeelte in Romeine 8. Hierdie gedeelte van die brief is in die vorm van 'n oorwinningslied geskryf. Paulus skryf ons is meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefhet. Paulus het 'n aanloop tot hy by hierdie gevolgtrekking kom. Hoe lyk 'n oorwinnaar se lewe?

1) God is vir jou – v31. Alles en almal is teen my; alles loop skeef. Selfs God is teen my. Paulus kom tot 'n gevolgtrekking – God moet vir ons wees. God is vir ons almal wat in Christus in die geloof staan. Wat 'n ongelooflike lewensveranderende gedagte. Die een ware God, die Skepper van alles is vir ons. Hulle hoef nie te soek vir 'n helde-advokaat om hulle saak te behartig nie. God sal as Advokaat optree. God is vir hulle! Die stryd behoort aan die Here. Ons vertroue lê in ons gemeenskap met Christus. Die lewe kan alles na ons kant toe gooi maar ons kan bly staan. Glo jy dat God regtig vir jou is?

2) God gee vir ons alles wat ons nodig het – v32. God het nie Sy eie Seun gespaar nie, Hy het hom nie terug gehou nie. Hy het Hom opgeoffer. Hoekom sal Hy nie vir jou alles gee nie. Alles is in Hom. Hy is meer as genoeg vir my. Ek hoef nie net kop bo water te hou nie, ek kan floreer. Besef jy wat jy alles het in Hom het – ALLES. Vra Hom vir meer van Hom in jou lewe. Hy is by magte om ver meer te kan doen as wat jy ooit kan dink of vra. Is Christus alles en genoeg vir jou?

3) Geen mens kan ons aankla nie – v33. Die duiwel die aanklaer lê gou negatiewe gedagtes in ons koppe. Skuldgevoelens is 'n beperkende kragontnemende gevoel. 'n Gevoel van ek kan nie. Wie kan dus die uitverkorenes van God aankla, en wie kan ons veroordeel? Die antwoord is eenvoudig: Niemand kan nie. In elk geval geen mens nie, 'n mens wat foute kan maak, 'n mens wat somtyds onregverdig is, 'n mens wat somtyds omkoopbaar is. Nee, die enigste een wat ons kan aankla is God sélf, en God,weet ons, is altyd regverdig. Ons regsaak is dus veilig. In die lig van die heerlikheid wat God vir ons bestem het, verdwyn die invloed van ons teenstanders se aanklagte teen ons soos mis voor die son. Jesus het die oorwinning aan die kruis behaal. Sy genade is genoeg vor jou en my. Daar is nou geen veroordeling vir die wat in Chtistus Jesus is nie. Jy kan nie ‗n mislukking of verloorder wees nie. Jy is tot alles in staat deur Jesus Christus wat jou krag gee. Hy draai die negatief om na die positief.

4) God tree in of pleit vir jou by die Vader – v34. Jesus sit aan die regterhand van die Vader. Hy het die oorwinning behaal. Gaan op jou knieë en in gebed, smeking en met danksegging maak alles aan Jesus bekend, die Een wat vir ons intree by die Vader, en die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan sal oor jou rus. Sy oor is nie te doof om na jou te luister nie.

5) Niks kan ons van Sy liefde skei nie – v35. Met ander woorde nie ons liefde vir Hom nie, maar Sy liefde vir ons. Paulus het hierdie brief geskryf redelik naby aan die einde van sy lewe. Teen daardie tyd het hy al soveel leed, hartseer, pyn en vernedering deurgemaak, en hy was al
verskeie kere in die tronk. En dan verklaar hy aan die gemeente van Rome dat daar niks is wat ons van die liefde van Christus kan skei nie! Geen lyding of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard nie – niks! Dit is asof al hierdie dinge in die niet verdwyn as ons die betekenis van die liefde van God in ons lewens besef. Ons kan met hierdie lysie aangaan. Alles wat jou moedeloos of depressief of kwaad of bang maak of jou laat twyfel, kan hierop geplaas word. Siekte, werkloosheid, eensaamheid, geweld (politiese of gesinsgeweld), finansiële laste, ja al ons probleme kan op hierdie lysie geplaas word. Ons het ons eie triomfboog – Die kruis – waarop ons alles kan skryf wat oorwin en verslaan is. Jesaja 43 - As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder. Ek gee Egipte as losprys vir jou, Kus en Seba in jou plek. Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet,... Paulus beskryf dit as 'n triomf wat alles te bowe gaan.

6) Ons is meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefhet – v37. Die woord wat Paulus vir hierdie oorwinning gebruik, is ‗n woord wat nêrens anders in die Nuwe Testament voorkom nie. Hy stel dit in die oortreffende trap— ons is méér as oorwinnaars! Hierdie oorwinning bestaan daarin, dat die band waarmee ons aan Christus gebind is, nie verbreek word deur die swaarkry in ons lewens nie. Hierdie band groei en triomfeer juis deur die ontberinge wat ons verduur. Die oorwinning bestaan nie ondanks die ontberinge nie, maar dit bestaan daarin. Sonder die ontberinge, sal die oorwinning sy betekenis verloor. Ons moet dit sien as 'n proses – 'n proses waarin ons dag na dag die liefde van Christus ervaar. Ons moet die oorwinning nie sien as 'n einddoel nie – ons moet dit sien as 'n lewenswyse. Want, broers en susters, as ons leef soos mense wat reeds oorwinnaars is, hoe kan ons nog moedeloos word? As ons weet dat niks ons van die liefde van Christus kan skei nie, moet hierdie liefde mos in ons lewens sigbaar wees. 2 Kor 4:8-9 In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie.

Ons weet nou dat wat ookal mag gebeur, in Christus is ons meer as oorwinnaars. Charles Spurgeon sê dit op 'n interessante manier: “You look at man as he is, and what can he do? He can do nothing!” But look at man with God IN him and I will reverse the question: “What can he not do?” Groter is Hy wat in my is, as hy wat in die wêreld is.

'n Atleet wat eerste oor die wenstreep hardloop, gooi sy arms in die lug. Hy wys sy blydskap oor sy oorwinning. Ons is oorwinnaars. Ons mag en moet ons blydskap oor ons oorwinning wys. Ons wys ons blydskap deur die liefde van Christus, wat Hy aan ons bewys het, ook aan ander mense te bewys.

Gaan leef in die volheid van die oorwinning wat ons in Jesus Christus het, met die wete dat niks, absoluut niks, ons van die liefde van Christus kan skei nie!

AMEN

Go to Top