12 April 2020

WELLINGTON DIGI-DIENS | Die leë graf se getuienis (lees) | Markus 16:1-8

Prediker:
Teksgedeelte: Markus 16:1-8

Wellington Digi-diens (Opstanding Sondag) 12 April 2020
Markus 16:1-8 Die leë graf se getuienis

Verwelkoming:

Goeie môre almal, baie welkom by Wellington se digi-diens hier op Opstanding Sondag. Die lydenspad van Jesus lei tot die kruis, maar ook die oop graf en dit is wat ons vandag vier. Die Here Jesus het opgestaan en die dood oorwin – ons mag dit nooit vergeet nie.
Vandag word ons daaraan herinner vanuit die evangelie van Markus. En gaan vra dat .... vir ons open met ’n gebed, waarna .... vir ons die Skriflesing sal doen.

Skriflesing en prediking:

Markus 16:1-8

Inleiding:

“Hy is uit die dood opgewek. Hy is nie hier nie. Kyk, daar is die plek waar hulle Hom neergelê het.” (v. 6)
Dit is die woorde waarmee die vroue by die graf ontmoet word. Vriende, besef julle dat ons glo, as gevolg van onbetroubare getuienisse. Dit klink vreemd né? Kom ek verduidelik. In die antieke tye, veral in die Joodse gemeenskap waarin Jesus grootgeword het, was die getuienis van ’n vrou glad nie betroubaar nie. Dit wil sê, dat, indien ’n vrou in die hof sou getuig van daardie tyd, sou dit glad nie eers in ag geneem word nie. Tye het verander en vandag lyk ons wêreld anders. Ons moet hierdie in die konteks van die tyd verstaan in die lig van die vrou se posisie in die samelewing.
Celsus, ’n Griekse filosoof het selfs hieroor gespot by die kerkvader Origines en gepraat van die “vrouens wat geskinder het by die graf.” En tog sien ons reg deur die Nuwe Testament hoe vrouens die getuienis in die vroeë kerk gedra het.
Daarom is dit noodsaaklik om te weet dat die eerste getuienis van Jesus wat uit die dood uit opgestaan het, in antieke terme, “onbetroubare” bronne was. En tog is dit hierdie getuienis wat die liggaam van Christus tot stand gebring het en ons vandag in standhou.

1. Hart van ons geloof:

Die opstanding is die hart van die Christelike geloof, dit is die hart van die evangelie. Ons maak baie van die kruisiging en die kruis, maar dit sou geensins betekenis gehad het as die graf nie daardie Sondagoggend leeg was nie.

2. Bevraagteken?

Die wêreld vandag daag egter hierdie idee uit. Die wêreld vandag is van mening dat juis dit wat die sentrale fokuspunt van ons geloof is, nie waar is nie. Die wêreld sien ons as onbetroubare getuies. Ons lewe in ’n moderne wêreld waar tegnologie en wetenskap ons totaal en al beïnvloed. Ons kan deur wetenskap die kleinste molekules sien en elke dag word iets nuuts ontdek, elke dag is daar al hoe meer tegnologiese ontwikkelinge wat ons insig gee oor die wêreld en die lewe rondom ons. Ongelukkig slaag die wetenskap en tegnologie nie daarin om die dood en opstanding van Jesus te verduidelik nie. Dit is waarmee ons daagliks in die media, koerante, sosiale netwerke en dokumentêre gekonfronteer word.

3. Tog was daar ’n leë graf

Maar tog bely ons, dat daar ’n leë graf was. Op daardie Sondagmôre, het die vrouens vroegoggend gestap en hulle sien die klip weggerol. Hulle sien ’n leë graf. Hulle sien Jesus is nie meer daar nie, hulle hoor die man, die boodskapper se getuienis, sy belydenis oor wat daar gebeur het:
“Julle soek Jesus van Nasaret wat gekruisig is. Hy is uit die dood opgewek.”
“Hy is nie hier nie. Kyk, daar is die plek waar hulle Hom neergelê het.”
Daar is ’n leë graf. Dit is ’n werklikheid en niks kan daar verbykom nie.

Vriende, as daar nie ’n leë graf was nie, sou die opdrag aan die vroue ook sinneloos gewees het, sou die boodskapper nie kon sê dat hulle hierdie nuus vir die dissipels moes gaan oordra nie.

4. Roep ons tot herinnering:

Met hierdie woorde roep die boodskapper deur sy getuienis die dissipels tot herinnering.. Hy nooi die dissipels om terug te dink aan die pad wat hulle saam met Jesus gestap het, hy nooi hulle om te dink oor waar hulle was en waar hulle nou is en ten spyte van die feit dat hulle Jesus verloën het, veral Petrus, nooi hy hulle uit om die pad vêrder saam met Hom te stap as Oorwinnaar.
Vir ons as gelowiges nooi Jesus ook uit om te gaan ontdek wat hierdie belydenis vir ons beteken. Jesus nooi ons uit om na ons pad te gaan kyk, waar ons begin het en waarheen ons op pad is en of dit saam met Hom is.

Waartoe roep die getuienis jou?

Die vraag vanoggend is die volgende vriende: waartoe roep hierdie getuienis jou?

Slot:

Vriende, mag ons die realiteit van hierdie belydenis in ons lewens raaksien; mag ons die getuienis in die evangelies en in die Woord ervaar, beleef en gaan leef, soos die dissipels dit beleef het; en mag ons besef dat wat vir die wêreld dalk dwaas is, vir ons as gelowiges ’n bron van nuwe krag en nuwe hoop is. AMEN.

Go to Top