5 Julie 2020

WELLINGTON DIGI-DIENS | Hoe kyk God na ons (lees) | 2 Petrus 3:8-9 en 14-15

Prediker:
Teksgedeelte: 2 Petrus 3:8-9 en 14-15

KONINKRYKSTYD #5

Hoe kyk God na ons? – 2 Petrus 3: 8-9 & 14-15

Ds. Lourens Bester / 5 Julie 2020

 

Goeie môre. Ek hoor onlangs die storie van ‘n Rabbi wat alleen stap op ‘n lang reis. Iewers op die reis stap ‘n groot Romeinse soldaat verby die Rabbi. In ‘n bombastiese stem vra die soldaat vir die Rabbi: “Wie is jy en waarheen is jy op pad?”

Die Rabbi het rustig gedink en antwoord toe die soldaat: “Ek sal vir jou dubbeld betaal wat jy nou verdien indien jy vir my kom werk en vir die res van my lewe vir my elke dag daardie twee vrae vra. Wie is ek en waarheen is ek op pad?”

Wie is jy en waarheen is jy op pad? Dis vrae wat elkeen van ons tien teen een al iewers vir onsself gevra het. Ons almal het ‘n behoefte om te behoort en te weet dat ons iewers heen op pad is. Daar is interessante metodes en tegnieke wat ons help om die vraag te beantwoord. Sommige tieners gaan vir toetse by beroepsvoorligters, party van ons was al by sielkundiges en beraders wat ons gehelp het, ander het dalk al persoonlikheidstoetse soos die Meyers en Briggs gedoen. Hierdie is wonderlike metodes wat ons kan help.

Wanneer ons die vraag vra - wie is ons en waarheen is ons op pad?, is dit dalk die belangrikste vraag waarby ons moet stilstaan “Wie sê God is ek en hoe kyk God na my?”

 

Kennis van God en kennis van myself

Johannes Calvyn was ‘n Franse teoloog wat ‘n groot rol gespeel het in die Gereformeerde teologie. In 1536 het hy die “Institutes of the Christian Religion” geskryf. Dit was ‘n opsommende dokument wat probeer verwoord het wat ons glo. In een van die openingsredes skryf hy:

Nearly all wisdom, that is to say true and sound wisdom, consist of two parts: Knowledge of God and knowledge of ourselves.

As volgelinge van die lewende Jesus Christus, wil ons hierdie wysheid bekom, wat beteken dat ons moet groei in kennis oor God en kennis oor onsself. Om te groei in kennis oor God en kennis oor onsself, is dit belangrik om vir ‘n rukkie stil te staan by die vraag “Hoe kyk God na ons?”

Hoe God na ons elkeen kyk is baie belangriker as hoe kollegas, familie en vriende na elkeen van ons kyk. 2 Petrus 3 help ons met ‘n paar roetemerkers om te verstaan hoe God na ons kyk:

God kyk na ons met sagte en geduldige oë

In Genesis 1 lees ons dat God ons elkeen na sy beeld geskape het. Dis ‘n reuse voorreg om te weet dat ons na God se beeld geskape is, maar ook ‘n groot verantwoordelikheid. In
Psalm 139 lees ons dat die Here met ons elkeen ‘n plan gehad het toe ons nog in die skoot van ons moeder was. Daarom is ons dankbaar dat die Here wat hemel en aarde geskep het ons elkeen geskep het met ‘n doel hier op aarde. Ons is ook dankbaar dat soos ons lees in
2 Petrus 3: 9 dat die Here met elkeen van ons lewens geduld het.

9) “Die Here is geduldig omdat hy nie wil hê dat iemand verlore moet gaan nie.”

Daar is egter ‘n klein probleempie. Ons as mense vergeet maklik. Ons vergeet dat die Here ons na Sy beeld geskape het en dat Hy na ons kyk met geduldige en sagte oë. In ‘n studie wat hulle gedoen het onder studente wat by ‘n nuwe fabriek begin, het hulle bevind dat die studente die inligting wat hulle in die oriënteringsprogram ontvang baie, vinnig vergeet. 1 uur na die oriënteringsprogram het meeste studente reeds 50% vergeet, 24 uur later het hulle reeds 70% vergeet en ‘n week later is 90% van die inligting wat oorgedra was nie meer in hulle geheue nie.

Net soos die studente, vergeet ons ook maklik. Ons vergeet dat God met sagte en geduldige oë na ons kyk. Dit maak dat ons nie reg na die mense rondom ons kyk nie. Dink maar hoe gou raak ons opgewerk wanneer iemand nie saam met ons stem oor politiek nie? Dink maar hoe gou ons ongeduldig raak met iemand wat vir jou vertel dat jy jou kinders verkeerd grootgemaak het?

Wanneer ons so opgewerk en ongeduldig raak, vergeet ons te maklik dat die God wat na ons kyk met sagte en geduldige oë, ook die God is wat van ons vra om na broers en susters rondom ons te kyk met sagte en geduldige oë. Al verskil hulle dikwels van ons vra die Here vir ons om ook na ander met sagte en geduldige oë te kyk.

God kyk met hoopvolle oë na ons

In 2 Petrus 3:14 lees ons:

“Daarom geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, moet julle julle daarvoor beywer om vlekkeloos en onberispelik voor God, en in vrede met Hom te lewe.”

Die Here Jesus maak elkeen van ons lewens nuut en heel. Al vergeet ons hoe God na ons kyk en al maak ons soms droog deur ongeduldig te raak, gee Hy ons nuwe geleenthede. Ons word vrygemaak deur die bloed van Jesus Christus en niks kan ons skei van die liefde van die Here nie. Wanneer God na ons kyk, is Sy hoop sekerlik dat ons nader en nader in ons verhouding met Jesus Christus groei. Dat ons meer en meer soos Jesus kan word.

Die wonder is dat dit nie net van ons eie mooi werke afhang om meer soos Jesus te word nie. Andrew Murray het geskryf:

“A dead Christ I must do everything for. A living Christ does everything for me.”

Die Here gee vir ons vriende, familie, die Heilige Gees en die Bybel om ons te snoei en begelei sodat ons vlekkeloos en onberispelik voor God kan staan. God kyk na ons met hoopvolle oë omdat die lewende Christus in ons woon deur sy Gees.

God kyk na ons met motiverende oë

Omdat God se Gees in ons woon moet ons weet dat die Here ‘n verantwoordelikheid op elkeen van ons se skouers sit. Ons lees in 2 Petrus 3: 15:

“En beskou die geduld wat ons Here met ons het as geleentheid om gered te word.”

God se sagte en geduldige oë motiveer ons ook deurdat Hy vir ons die geleentheid gee om Sy getuies te wees om ‘n lig vir die wêreld te wees. Net soos God geduld het met ons sodat ons gered moet word, is daar baie mense vir wie ons getuies moet wees sodat die Here hulle ook kan red. Die Here maak ons mede-werkers en getuies wat van ons vra om as ambassadeurs van die lewende Jesus Christus te lewe.

Wat beteken dit dan om as ambassadeurs te lewe vir God wat met ons kyk met sagte, geduldige, hoopvolle en motiverende oë?

  • Ons elkeen is ‘n dissipel wat met sagte en geduldige oë na die mense rondom ons probeer kyk.
  • Ons leef in ‘n dorp en land waar ons nie skaam hoef te wees om te getuig nie. Ons moet die geleentheid gebruik om die Goeie Nuus van ‘n God wat met sagte en geduldige oë na ons kyk te versprei.

Hudson Taylor het hieroor geskryf:

“Die Here is nie opsoek na mense met groot geloof nie; Hy soek na individue wat reg is om Hom te volg.”

 

Wat sou jou antwoord wees aan die soldaat?

Wat sou jou antwoord wees indien die Romeinse soldaat vir jou moes vra: “Wie is jy en waarheen is jy op pad?”

My hoop is dat ons sal kan getuig dat ons kinders is van ‘n God wat met sagte en geduldige oë na ons kyk en daarom ons motiveer om met sagte en geduldige oë na ander te kyk. My hoop is dat ons sal kan getuig dat ons reg is om vir God te volg of dit is by die huis, werk, skool, aftree oord of tussen vriende.

Mag jy die week ervaar dat die sagte en geduldige oë van die Here jou hoop gee en motiveer.

Amen.

 

DANKOFFERS

Oorweeg asseblief om jou dankoffer elektronies te gee via elektronies bankoorplasing (EFT) of via ZAPPER

Bankbesonderhede:

ABSA | Tak: 334-510 | Rek no. 430 580 000

ZAPPER:

 

Go to Top