WELLINGTON DIGI-DIENS | Die Sewe Wonders van Jesus se kruisiging (lees) | Matteus 27: 45-54
Teksgedeelte: Matteus 27: 45-54 | Prediker: Ds Bennie Janse van Rensburg | GOEIE VRYDAG : MATTEUS 27 VERSE 45 TOT 54
Ds Bennie Janse van Rensburg
INLEIDEND: Wat ‘n tyd in die wêreld, wat ‘n tyd in SA ! die corona virus is ‘n pandemie, almal is in lockdown ! dit wat ons ons nie kon indink ‘n paar weke gelede nie het skielik werklikheid geword. Ek wil u vandag terugneem na wat ‘n dag in Jerusalem wat alle ander dae daarna in ‘n nuwe perspektief kom plaas. Die dag in Jerusalem toe Jesus Christus die Seun van God gekruisig is en gesterf het. Die dag iewers in April tussen die jare 30 en 36 nC. Die Vrydag vind daar 7 wonders plaas, 7 wonders waarin God vir ons die betekenis van die dag veduidelik. Kom ons kyk na die 7 wonders en wat dit vir ons sê vandag in 2020.
SKIELIK WORD DIT PIKDONKER IN DIE MIDDEL VAN DIE DAG: JESUS WORD DIE GROOTSTE SONDAAR OOIT IN DIE OË VAN GOD!
Vers 45 lees ons daar het duisternis oor die land gekom wat tot drie uur geduur het. Die son het op ‘n bonatuurlike wyse opgehou skyn. Jesus word tot sondaar gemaak en God giet Sy toorn oor hom uit. In daardie drie ure van duisternis gaan Jesus letterlik hel toe en sterf hy die dood van ‘n verlore sondaar. Die deure van die hel gaan vir hom oop sodat dit vir altyd vir ons sal toegaan.
DIE VADER DRAAI SY RUG OP SY SEUN: SY DOODSROEP WORD ONS LEWENDLIED!
Vers 46 lees ons dat Jesus uitroep My God , my God , waarom het U my verlaat ?. Hier vind ons die dieptepunt van Jesus se lyding: Hy sterf as ‘n verlore sondaar , gemeenskap met Die Vader en die HG word hom ontneem. Ondenkbaar, daarom roep hy uit in sy verlatenheid en in sy verlorenheid ! Sy doodsroep word ons lewendslied, sy hellevaart waarborg ons hemelvaart.
JESUS STERF IN MY PLEK AS SONDAAR: HY GEE SY LEWE AS DIE VOLLE LOSPRYS VIR AL MY SONDE! Vers 50 lees dat Jesus hard uitgeroep het en die laaste asem uitgeblaas het. Dit is volbring. Mense kon tot 4 dae leef aan ‘n kruis , Jesus sterf na ‘n paar uur want hy gee sy lewe , dit word nie geneem nie. Hy ruil plekke met ons en sterf in ons plek om die volle prys te betaal .
DIE VOORHANGSEL VAN DIE TEMPEL SKEUR: DIE SKEIDING TUSSSEN GOD EN MENS WORD WEGGENEEM. Vers 51 lees dat die voorhangsel in die tempel van bo na onder skeur. Die skeiding tusssen die heilige en die allerheiligste word weggeneem. Die allerheiligste waar die ark van die verbond was kon net een maal per jaar besoek word deur die Hoëpriester om ‘n offer te bring vir die volk se sonde. Niemand is daar toegelaat nie, daar waar God se glorie was. Kan net dink watter konsternasie dit sou veroorsaak onder wat op daardie stadium in die tempel was. Vrees en bewing sou hulle vervul, maar dit is nie nodig nie , want daar sal nooit weer daar geoffer hoef te word nie. Die prys is betaal, die skeiding tussen God en mens is weggeneem vir altyd.
DIE AARDE SKUD EN ROTSE SPAT UITMEKAAR: DIE EINDTYD IS HIER, GOD IS OP PAD NA ‘N NUWE AARDE MET ONS. Vers 51 verwys na ‘n groot aardbewing, die aarde sug en smag ook na bevryding. God is op pad met ons na die nuwe aarde .
GRAFTE GAAN OOP EN DOOIES WORD OPGEWEK: ONS IS NOU VRY VAN DIE DOOD EN VRY OM TE LEWE. Vers 51 beskryf hiedie wonder wat groot verwondering sou bring , dink jou net in. Die dood is oorwin, lank lewe die lewe ! Ons kry deel aan die ewige lewe in Jesus. Vry om te lewe en ophou probeer oorleef.
DIE HEIDENSE OFFISIER BELY JESUS AS DIE SEUN VAN GOD! WIE SÊ JY IS HY? Vers 54 beskryf die sewende wonder wanneer die heidense offisier tot bekering kom en Jesus se identiteit as Verlosser , Redder en Messias bely. Wie sê jy is Jesus ? Ken jy Hom as jou Verlosser en Redder ? Weet jy wat dit beteken om Hom te volg tot aan die kruis en nie net tot by die kruis nie.
Mag Jesus se liefde en genade versprei soos ‘n pandemie wanneer ons geloof meer aansteeklik word as die mees aansteeklike virus.
Die Here seen U .
Hier is ‘n uitreksel uit die Nagmaalsformulier:
DIE WESE VAN DIE NAGMAAL
Die nagmaal is in sy wese ’n verbondsmaaltyd, waar die verbinding tussen Christus en Sy gemeente telkens vernuwe word. As verbondsmaaltyd het dit die volgende betekenisse:
1. Die nagmaal is in die eerste plek ’n gedagtenismaaltyd. Die Here het by die instelling van die nagmaal gesê: “Gebruik dit tot my gedagtenis.” (Luk 22:19). In die nagmaal oordink en verkondig ons die dood van die Here. By die aanskouing van brood en wyn roep die gemeente hom die hele lydensweg van Jesus Christus voor die gees: hoe Hy Sy lewe gegee het; hoe Hy soos ‘n koringkorrel in die grond geval en gesterf het; hoe Hy die lydensbeker gedrink het; hoe Hy van God verlate was en uitgeroep het: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” (Mark 15:34), sodat ons nooit deur God verlaat sal word nie.
2. Die nagmaal is in die tweede plek ’n waarborg. Daarom sê Hy: “Dit is my liggaam” en “Dit is my bloed” (Matt 26:26, 28). So seker as vir elkeen hierdie brood voor Sy oë gebreek word, en hierdie beker aan hom gegee word en ons dit met die mond eet en drink, so seker het ons deel aan Christus, aan Sy sterwe en opstanding. Hierdeur waarborg Hy Sy soenverdienste vir ons so volledig asof ons self voor God gestaan het, self die straf vir ons sonde gedra het, self daarvoor gesterf en opgestaan en ons geregtigheid voor God verwerf het. Die sekerheid wat hierdie waarborg ons gee, is nie gegrond op ons gevoelens of stemminge nie, maar op die tekens uit die hand van die Here; dit is in die Here self gevestig.
3. Die nagmaal is in die derde plek die viering van die gemeenskap met die lewende Here en met mekaar. Die nagmaal verbind ons nie net met Sy dood nie, maar help ons om in die gemeenskap met Hom te lewe. Deur die Heilige Gees is die lewende Christus in die nagmaal by ons teenwoordig. Verder word ons deur dieselfde Gees ook weer met mekaar as lidmate van een liggaam, in broederlike liefde saam verbind, soos die apostel sê: “Omdat dit een brood is, is ons, al is ons baie, saam een liggaam, want ons het almal deel aan die brood.” (1 Kor 10:17).
4. Die nagmaal is in die vierde plek ’n verkondiging van ons toekomsverwagting. Ons het in die nagmaal die versekering dat die Here een met ons is. Tog kyk die gemeente hiermee ook vooruit na Sy wederkoms, en verkondig daarmee die dood van die Here totdat Hy kom. Deur die nagmaal strek ons ons uit na die dag wanneer Christus in heerlikheid sal verskyn en alles tot volheid sal bring, die dag wanneer Hy die hemel en die aarde nuut sal maak sodat geregtigheid daarin kan woon – en “God alles … vir alles” kan wees. In die nagmaal verlang die bruid van Christus na die bruilofsmaaltyd van die Lam (1 Kor 15:28).
5. Die nagmaal is in die vyfde plek ’n vreugdefees. Al spreek die tekens van die lyding en sterwe van Jesus Christus van Sy kruis, Sy bloed wat vergiet is en Sy liggaam wat gebreek is, staan die Nagmaalsviering nie in die teken van rou en droefheid nie. Hoewel die gemeente die nagmaal met gewyde erns vier, is dit tog ’n vreugdefees, waar die Heiland op ’n besondere manier die vrugte van Sy lyding, sterwe en opstanding uitdeel. In die nagmaalsfees mag die gemeente nou van die vreugde smaak wat vir ons wag by die bruilofsmaaltyd van die Lam.
6. Uit dit alles blyk duidelik dat die nagmaal ten slotte ’n fees van dankbaarheid is. Die Heilige Gees verseker ons deur die tekens van brood en wyn van die heil wat ons in Christus deelagtig is.