2 Augustus 2020

40 DAE DIGI-DIENS | Die Bybel as God se stem (lees) | Heb. 1 :1-4; 3:7-8 ; Rom 10:8-15

Prediker:
Reeks:
Teksgedeelte: Heb. 1 :1-4; 3:7-8 ; Rom 10:8-15

DIE BYBEL AS GOD SE STEM

Heb. 1:1-4; 3:7-8; ROM. 10 :8-15

2 Augustus 2020

Ds. NJ van As

 

WAAROOR GAAN DIT

Mense hoor gewoonlik mekaar wanneer ons met mekaar praat, maar ons praat ook met mekaar deur
e-posse, WhatsApps en boeke. God praat met ons deur die Bybel. Die woorde wat Jesus gesê het toe hy op aarde was, is daarin opgeteken.  God praat ook deur die Heilige Gees met ons.  Hy  leer ons en herinner ons aan alles wat Jesus op aarde gesê het. Ons hoor ook God se stem deur die prediking wanneer God aan die woord kom.

INLEIDING

Ons tema vandag is - die Bybel as God se stem. Die vraag wat onmiddellik by ’n mens opkom is - Hoe klink God?  Hoe praat God met ons?  Ek het Hom nog nooit soos ’n stem uit die hemel gehoor nie.

Maar hoe praat ons met mekaar.  Soms hoor ons iemand sê: “Andrew Murray het gesê of Calvyn het gesê of Winston Churchill het gesê of Stehan Joubert het gesê, maar dan het ons hulle nie fisies hoor praat nie. Ons het net gelees wat hulle gesê het, in 'n boek of ‘n WhattsApp of ’n e-pos of wat iemand ons vertel het.

Kom ons luister hoe praat God met ons.

SKRIFLESING

Die skrywer van Hebreërs sê dat God in die verlede met mense deur profete gepraat het. ‘n Profeet is mos iemand wat na God luister en dan vir die mense vertel wat God gesê het.  Ons lees hoe God met Jeremia gepraat het en met Abraham en Hy het met Moses persoonlik gepraat soos met ’n vriend.

Maar in die laaste dae het Hy deur sy Seun gepraat.  In die verlede was daar tussengangers -profete-, maar nou praat God deur Jesus. God het Homself kom bekendstel aan die mense deur Jesus. God het in ’n menslike liggaam kom tent opslaan tussen mense en direk met mense gepraat.

Wanneer ons die evangelies volgens Matteus, Markus, Lukas en Johannes lees, hoor ons Jesus praat.  Veral as ons die Bergpredikasie lees.  Dis God wat deur Jesus met ons praat en vir ons die grondwet van sy koninkryk verduidelik.  Jesus sê telkens dat Hy net sê wat hy by sy Vader hoor.  As van die dissipels twyfel en vra dat Hy vir hulle God moet wys, dan sê Hy vir Filippus:  ”Wie My sien, sien die Vader.”

God praat deur Jesus – ook met ons.  As ons die evangelies lees, dan praat God met ons en vertel Hy vir ons hoe ons gelukkig kan wees en kan leef.  Die res van die Bybel is deur mense geskryf wat deur die Gees geïnspireer en gelei is om te skryf.  Dit vertel vir ons van God dat God die Skepper van alles is.

Hoe teleurgesteld Hy was toe die mens aan Hom ongehoorsaam was en meer op mensgemaakte goed vertrou het as op God self.  Die Bybel vertel ons van God se liefde vir ons.  Hoe Hy met sy Seun se bloed betaal het vir ons verlossing en hoe ons as verlostes moet lewe.

GOD PRAAT OOK DEUR DIE HEILIGE GEES MET ONS

In Hebreërs 3:7 lees ons dat ons moet luister na wat die Gees sê. Toe Jesus wat God op aarde kom verteenwoordig en bekendgemaak het, teruggekeer het na die Vader, het God die Heilige Gees gestuur om by en in ons te wees – om ons in die waarheid te lei, om ons te leer en te herinner aan wat Jesus gesê het toe Hy op aarde was.

Die Heilige Gees praat met ons, maar Hy sal ons nooit anders oortuig as wat in die Bybel staan nie, want Hy praat nie uit Homself nie.  Net soos Jesus gesê het wat Hy by God hoor.

GOD PRAAT OOK MET ONS DEUR DIE PREDIKING

In Romeine 10: 13-14: “want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.  Maar hoe kan 'n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie?  En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie?  En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek?”

God praat met ons deur prediking, want deur prediking kom God aan die Woord.  In ’n preek hoor ons God.  Ons hoor van Sy liefde en ons verlorenheid sonder Jesus.  Ons hoor wat God deur Jesus vir ons gedoen het.  Ons glo en ons word gered.

In en deur die prediking hoor ons hoe ons as verlostes moet leef.  Wat God se wil is en wat Sy doel met ons is.  Jesus stel dit tog so duidelik in Matteus 5:16:  “Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”

Ek het nou eendag met ’n ou tannie gesels wat ses maande in die hospitaal was en wonderlik herstel het, maar nou wonder sy wat haar doel in die lewe is. Wat is God se plan met haar? Toe herinner ek haar daaraan dat ons doel en haar doel is net om God elke dag te verheerlik.  Dat sy maar net vir God kan leef en dat elke mens wat met haar te doen kry, iets sal ervaar dat God in beheer van haar lewe is.

Die Bybel is ’n skatkis vol geskenke, vol beloftes, ’n resepteboek vir ’n gelukkige en geseënde lewe.  Die stem van God self.  Wanneer ons die Bybel lees, praat God self met ons.

Ek wil graag afsluit deur vir u te vertel van Jak de Priester se belewenis in Londen.  Hy is saam met vriende Engeland toe om daar te gaan skool hou.  Sy vakke was Afrikaans en Duits en natuurlik nie so in aanvraag in Engeland nie.  Sy vriende het almal werk gekry, maar hy nie en sy paar ponde het al minder geword.  Hy het later begin pennies versamel wat hy op die grond sien lê het.  Eendag is hy na ’n diens by die Afrikaanse gemeente in Londen.  Daar het hy ’n Bybeltjie by die deur ontvang.  Toe hy deur die Bybel blaai, lees hy die gedeelte waar Jesus sê - jy is baie meer werd as ’n mossie en God sorg vir die mossies, hoeveel te meer sal Hy nie vir jou sorg nie.  Hy het tot God gebid en gevra vir werk.

Maandag is sy vriende almal werk toe en hy is alleen by die huis. Dinsdag dieselfde storie, maar toe lui sy foon en iemand doen navraag oor die onderwyser wat Duits kan aanbied. Hy kry ’n onderhoud en werk. Hy is oorstelp van vreugde.

Op pad werk toe moet hy trein ry, maar die trein is vol en voor hy kan inklim vertrek die trein en hy moet wag vir die volgende een.  Terwyl hy gefrustreerd wag, val sy oog op ’n pennie.  Hy tel dit op, maar dis nie ’n pennie nie, maar ’n Suid-Afrikaanse 1 sent met twee mossies op – en dit herinner hom toe aan die gedeelte wat hy gelees het. Jy is baie meer werd as ’n mossie.  Hy het besef dis God wat vir hom sorg, al het hy die eerste trein verpas.  Hy het vandag nog die muntstuk om hom te herinner aan God se beloftes in die Bybel.

Die Bybel is God se stem. God praat met ons deur sy Woord, deur die Bybel, maar om Hom te hoor moet ons die Bybel lees, oordink en met ander daaroor praat dat ons dit kan onthou. Ons moet Sy beloftes  en tekste leer sodat ons ook in moeilike tye Sy stem kan hoor as ons terugdink aan Sy beloftes. Mag jy  ook  in die 40 dae God se stem hoor wanneer jy die teksgedeeltes lees en die Digi-dienste luister, die dagstukkies oordink, wanneer jy saam met jou gesin of ander doen wat die kinderbediening voorberei het of wanneer ons saam tydens die Zoom-geleentheid deel wat ons geraak het - of wanneer jy sommer net op jou eie besig is met God se Woord.

Mag Ps. 1 ook ons belewenis wees:  “Dit gaan goed met die mens of vol van geluk is die mens wat in die Woord van die Here sy vreugde vind en dit dag en nag oordink. Hy is soos ’n boom wat by waterstrome geplant is.”

Mag jy God se stem hoor wanneer jy die Bybel lees, die Heilige Gees met jou praat en wanneer jy na ‘n preek luister.

 

DANKOFFERS

Oorweeg asseblief om jou dankoffer elektronies te gee via elektronies bankoorplasing (EFT) of via ZAPPER

Bankbesonderhede:

ABSA | Tak: 334-510 | Rek no. 430 580 000

ZAPPER:

 

Go to Top