13 September 2020

WELLINGTON DIGIBOODSKAP | Nuwe oë in goeie en slegte tye (lees) | Jakobus 1: 2-4

Prediker:
Teksgedeelte: Jakobus 1: 2-4

DIGI – PREEK

FRANCOIS HUMAN

SONDAG, 13 SEPTEMBER 2020

 

Viktor Frankl was 'n Oostenrykse neuroloog en psigiater, wat van 1905 tot 1997 geleef het. Hy was onder andere ook ‘n gevangene in Duitse konsentrasiekampe. Beide sy ouers en sy vrou is dood in die konsentrasiekampe. Hy self is menigte kere gemartel.

Nadat hy deur Amerikaanse soldate bevry is in 1945, skryf hy die boek – “Waarom lewe ek?”…..Deur die lyding wat hy en andere beleef het in die konsentrasiekampe kom hy tot die opspraakwekkende konklusie dat selfs in die mees absurde, pynlike en onmenslike situasies die lewe potensiaal het om sinvol te wees.

Ons as gemeenskap, land en wêreld is nou al vir bykans 6 maande in die pandemie gewikkel van Covid 19. En nou vra ons vrae oor baie dinge.

Jakobus 1: 2 – 4 (die Boodskap vertaling)

2My liewe mede-Christene, wees opgewonde as julle geloof by elke geleentheid getoets word. Julle weet mos hoe goed dit vir julle geestelike lewe kan wees. 3Die slegte dinge wat met julle gebeur, toets of julle werklik die Here vertrou. As dit met julle sleg gaan, leer julle juis om nader aan die Here te leef. Julle moet die Here toelaat om julle deur hierdie dinge te leer wat dit beteken om altyd net op Hom te vertrou, kom wat wil. So sal julle geestelike grootmense word wat weet hoe om in elke situasie reg op te tree.

 Ons is nie van nature bly as dit sleg gaan nie, nee - ons wil reeds hê dit moet goed gaan. Nou  kom gee Jakobus vir ons ‘n ander perspektief – dat ons goeie of veral slegte seisoene in ons lewe as groeityd moet sien. Daarom moet ons nie te vinnig oor dit gaan of net aangaan met ons lewe nie. Ons moet bietjie nadink.

Soos ons in die inligtingsvideo gesê het – ons het met die aanbreek van Covid 19 grendeltyd vir ons gereed gemaak soos ‘n atleet vir ‘n kort afstand wedloop, maar toe word dit ‘n middelafstand en nou is ons al besig met ‘n marathon waarvan ons nog nie weet waar is die eindstreep nie. In die marathon moet ons dan nou probeer sin maak en ons weet ook nie vir hoe lank die chaos met ons gaan wees nie.

Dit help soms om te weet ons is nie alleen in dit alles nie, want dit maak nie saak wie of wat ons is nie, ons het iets prys gegee of verloor in die tyd.

Ons het byvoorbeeld die volgende verloor:

  • Verlies aan inkomste
  • Verlies aan werk
  • Verlies aan roetine
  • Verlies aan oefening
  • Verlies aan sportbyeenkomste/ kunstefeeste
  • Verlies aan ruimte (mag nie oral beweeg nie)
  • Verlies aan skool
  • Verlies aan ideale (veral matrieks)
  • Ens. ens…..die een verlies lei na die volgende.

David en Elizabeth Kubler-Ross help ons om te verstaan dat ons almal op ‘n manier iets verloor het (verlies ervaar het) , alhoewel ons dalk op verskillende plekke is op die reis. Die 5 is nie liniêr nie…m.a.w. dit gebeur nie noodwendig presies na mekaar nie. En een persoon kan in dieselfde situasie ‘n ander emosie ervaar as jy.

Hier kan mens oorsigtelik die aangehegte emosionele reaksies behandel word.

 Dis eintlik bevrydend om te weet ons is nie alleen nie. Jy roei, stoei en sukkel nie alleen nie.

Ons het nie net verlies ervaar nie, maar ook in sekere opsigte iets bygekry – tyd vir onsself, tyd vir ons gesinne, tyd vir stil-word, kwaliteittyd saam met die Here, nuwe maniere van dinge doen,ens.

Dis veral die laaste emosie  wat ons gaan vorentoe help – Aanvaarding – hopenlik bring dit ons op die punt dat ons nie net vra na die sin van die alles nie, maar dat ons sin sal gee. Jakobus sê dis wat ons sal laat groei en vir ons sterk maak – deurdat ons leer en dan sin gee in alle situasies.

Ons kort iets?

Die sanger Andy Grammar – het al baie keer hawelose mense wat erg verwaarloos is gehelp. Dit het begin by shampoo, seep en hulle hare sny. Dan ander klere en versorging. Mens sien die verandering uiterlik, maar mens sien ook wanneer hierdie mense in ‘n spieël kyk hoe emosioneel hulle raak, want dit doen iets aan hulle mens-wees. Hulle kyk met nuwe oë na hulleself. En dan wanneer hulle weer uitgaan op straat en ander mense kyk met nuwe oë na hulle. Dis asof hulle ‘n nuwe seisoen beleef.

Is dit nie wat ons kort in ‘n tyd soos die nie – NUWE OË!!

Dat ons na situasies, ons werk, ons skole, alles wat ons vanselfsprekend aanvaar, ons gesinne, families, gesondheid….en 100de ander dinge met nuwe oë sal bekyk.

Die oë waarvan Psalm 121 skryf – “ek slaan my oë op na die berge waar sal my hulp vandaan kom, my hulp kom van die Here wat alles gemaak het”….die Here wat my verskillende emosies verstaan…die Here wat weet ek het nog nie al die antwoorde nie…..die Here wat nogsteeds saam met ons op reis is.

 

DANKOFFERS

Oorweeg asseblief om jou dankoffer elektronies te gee via elektronies bankoorplasing (EFT) of via ZAPPER

Bankbesonderhede:

ABSA | Tak: 334-510 | Rek no. 430 580 000

ZAPPER:

Go to Top