14 Junie 2020

WELLINGTON DIGI-DIENS | Waar is Jesus in die storm (lees) | Matteus 8:23 – 27; Matteus 14 : 22 – 33

Teksgedeelte: Matteus 8:23 - 27; Matteus 14 : 22 – 33

EREDIENS - SONDAG 14 JUNIE 2020

(Ds. Bennie Janse van Rensburg)

TEMA: WAAR IS JESUS IN DIE STORM ?

Teks: Matteus 8:23 - 27; Matteus 14 : 22 – 33

 

Niemand kon die verreikende gevolge van die Covid 19 virus op die wêreld voorspel nie.  Hierdie storm wat die virus veroorsaak het, het die wêreld op sy kop gekeer in ‘n oogwink. Die magtigste lande, die grootste weermagte en geld is weerloos teen hierdie onsigbare vyand - die Corona virus.  Iemand het gesê ons is almal in dieselfde bootjie, maar dit is nie heeltemal waar nie: ons is almal in dieselfde storm, maar in verskillende bootjies. Sommige se bootjie is ‘n luukse seiljag of selfs ‘n groot passasierskip, sommige se bootjie is ‘n klein roeibootjie en ander is alleen in ‘n kano en dan is daar ook al mense wat net vasklou aan ‘n stuk dryfhout in hierdie perfekte storm wat ons almal getref het en wat almal raak.  Sommige bevind  hulle in die oog van die storm en ander weer aan die kant, en dit maak nie saak waar jy jou bevind nie:  vir elkeen is sy storm eg en erg.  Dit raak ons fisies, sommige raak siek en gaan dood, finansieël verloor mense hul werk en ly hulle honger.  Emosioneel verval mense in depressie en angs, en selfs geestelik verloor mense hoop en begin twyfel aan hulle geloof.  Ons het diep bewus geraak van ons eie broosheid en hoe kosbaar die lewe is.  In hierdie storm wil ons soos die dissipels uitroep: “Here, red ons, ons vergaan!”, want ons worstel met die vraag: “Waar is Jesus in die storm? Wat maak Jesus in die storm?“

Inderdaad die vraag wat die dissipels ook vra in die storm wat hulle tref en waarvan ons lees in
Matteus 8 en 14.  Die dissipels maak Jesus wakker waar Hy slaap in die boot en vra verwytend dat Hy moet help, hulle vergaan.  Ook in Matteus 14 wanneer Petrus begin sink roep hy: “Here, red my!”  Kan Jesus ons help? Wil hy ons help? Hy kan en Hy wil. Hy is teenwoordig in die storm. In die donkerste tye ontvang ons die heerlikste openbarings van wie Jesus regtig is. Hy openbaar Homself in die gedeeltes as die Messias, die Seun van God, die Here, die een wat heers - ook oor die wind en die golwe.  Hy kan die storm stilmaak - vir Hom is die onmoontlike die maklike.  Hy kan vir ons uit die storm uithaal of Hy kan die storm uit ons haal en vir ons vrede en rustigheid gee te midde van die storm wat om ons woed.  Jesus is of reeds saam met jou in jou bootjie of Hy is op pad na jou in jou bootjie.  Hy troos sy dissipels en elkeen van ons vandag met die woorde: “Moenie bang wees nie, Ek is hier by jou! - My genade en liefde is genoeg.” Hy roep ons tot ‘n nuwe geloof en toewyding aan Hom.

Storms in jou lewe is altyd ook ‘n tyd van vernuwing waarin ons die Here wat heers weer moet erken en raaksien.  Die vraag is eintlik: Waar is ek in die storm? Wat doen ek in die storm?  Die vraag is nie of Jesus op die bootjie is nie, maar of ek/jy op die bootjie is?  Ons sien dat angs en vrees die dissipels verlam en hul sig en gehoor aantas.  Hulle erken en herken Jesus nie, hulle dink Hy is ‘n spook.  Hulle hoor nie sy stem bo die geslaan van die golwe nie. In hierdie storm waarin ons ons bevind, kom daar soveel stemme na ons toe dat ons Jesus se stem wat troos nie hoor nie: “Moenie bang wees nie, Ek is hier by jou!” Ons moet Jesus weer raaksien en Sy stem herken;  ons moet Hom erken en herken as die Here, die een wat heers in die hemel en op aarde.  Die een in wie se hande ons is en waaruit niemand ons kan ruk nie.  Ons moet opnuut in die storm op Hom fokus en uitroep: “My Here en my redder!” Ons moet Sy stem herken en dit gaan waag met Sy woord.  Jy kan uit die boot klim en op water loop.  Jy kan daadwerklik in hierdie tyd ‘n reuse verskil maak deur uit te reik na ander in nood. Jy kan by wyse van spreke op water loop al is dit net vir ‘n paar tree.  Jy kan ook maar net in die boot bly sit en angstig glo. Geloof is eintlik maar ’n klein geloofie in ‘n groot Here.  Dit is eintlik maar net om uit te roep:  Here, red my, Here, hou my vas! Jy kan ook maar net dryf op water. Dit voel dalk vir jou of jy al oorboord geval het en besig is om te vergaan.  Jy kan jouself oorgee aan die water en begin dryf op die water.  Dit klink mos onmoontlik dat ‘n mens kan dryf op water tot jy jouself oorgee, dan sien jy dit werk.  Geloof beteken soms dat ons moet ophou self probeer, ophou spartel en onsself net oorgee in die hande van God, dan sal ons agterkom dit werk - ons is veilig in Sy hande, al bevind ons ons in die storm.  In hierdie storm kan ek jou dalk nie my geloof wys nie, maar ek kan jou my verlosser wys. Hy is die een wat in die oog van die grootste storm ooit was, die storm van sonde, ter wille van ons, sodat ons gered kon word. Hy was God se reddingstou wat ons uit die storm van sonde kom lig het na veiligheid.  Wat wil Jesus vandag deur my doen in die storm wat woed?  Hy roep my en jou om ‘n draer van hoop, genade en liefde te wees. Om te doen wat ek en jy kan, waar ek en jy is en met wat ons het. Hy is teenwoordig in hierdie storm, sien Hom en hoor Hom en wees ‘n instrument in Sy hande wat ‘n positiewe verskil maak.

Amen

 

DANKOFFERS

Oorweeg asseblief om jou dankoffer elektronies te gee via elektronies bankoorplasing (EFT) of via ZAPPER

Bankbesonderhede:

ABSA | Tak: 334-510 | Rek no. 430 580 000

ZAPPER:

 

Go to Top