26 April 2020

WELLINGTON DIGI-DIENS | Vrygemaak (lees) | Gal 4: 28-5:1

Prediker:
Teksgedeelte: Gal 4: 28-5:1

26 April 2020 Ds Lettie Büchner

VRYGEMAAKTES

Galasiërs 4:28 - 5:1

In hierdie seisoen, wat ons PAASTYD in die kerk noem, word die kerk (ek en jy) genooi om na te dink oor watter verskil die opstanding van Jesus Christus in ons alledaagse lewe maak.  Die opstanding is nie een dag in die jaar wat ons met paaseiers vier nie. Die opstanding is die kragtige gebeurtenis wat die vermoë het om die koers en die waarde van ons lewe vir ewig te verander.

Toe Johan in verlede week se digi-diens met ons gedeel het dat Christus se opstanding ons MEER as OORWINNAARS maak, het dit my aan die dink gesit…ek het begin dink oor nog ‘n nuwe identiteit of status of posisie wat die opstanding in my en jou lewe tot gevolg kan hê, wanneer ons die uitnodiging aanneem om vanuit hierdie opstandingskrag te leef.

Ek wil vandag met jou praat oor jou identiteit as VRYGEMAAKTE.  Nogal ‘n heel gepaste tema om oor te dink… juis in ‘n tyd waar mense omgekrap raak oor hulle vryheid waarop daar nou soveel beperkinge gelê word.  Niemand hou daarvan om voorgesê te word nie; niemand hou daarvan om te voel dat hulle nie kan maak soos hulle gewoond is nie… so nou dat daar ‘n staat van inperking, of kom ons noem dit ‘n beperking op ons vryheid is, is die vraag… kan ons nog oor onsself as vrygemaaktes dink?

Paulus skryf ‘n omsendbrief aan die gemeentes in Galasië en spreek hierdie tema van “Vryheid” aan.  In hierdie brief wat ons nou gaan lees, praat Paulus die Joodse gelowiges aan wat van veral nuwe nie-Joodse gelowiges verwag om ook tipiese Joodse gebruike te beoefen, voordat hulle as volwaardige volgelinge van Jesus beskou kan word.  In hierdie spesifieke gedeelte gaan dit bv. oor die besnydenis.  Paulus sê dan nee-nee - julle is nou besig om ‘n verdraaide vorm van die evangelie te verkondig. Die goeie nuus, die evangelie is juis dat Jesus se kruisdood en opstanding voldoende is.  Daar is niks meer wat ons nodig het om by te voeg om te kwalifiseer as gelowiges nie.  Jou en my Vryheid gaan nie in die eerste plek oor ons beweeglikheid nie, maar dat dit opgesluit is in die vaste vertroue en kennis dat JESUS CHRISTUS genoeg is.

Kom ons luister na Paulus se argument in Galasiërs.

Galasiërs 4:28 - 5:1

Paulus is passievol dat die gemeentes nie moet wegbeweeg van hulle status as vrygemaaktes nie.

Ek wil begin en kortliks iets sê oor wat ek vermoed baie mense dink wanneer daar oor Vryheid gepraat word.  “Ek is vry”, beteken dikwels vir mense dat ek beheer het oor my lewe en dat ek kan besluit wat ek wil doen of nie.

Dit moet ons net met mekaar uitklaar.  Die stelling: “Vryheid” beteken ek kan doen net wat ek wil - ek is die baas van my eie lewe, faal op sy eie standaarde.

Om ‘n voorbeeld te gebruik…’n vis sal bv. nie kan sê: “Ek is vry om te doen net wat ek wil en daarom gaan ek nou bietjie buite die water rondloop nie”.  ‘n Vis is nie gemaak om buite die water te wees nie… net so lê ware Vryheid vir ‘n mens ook nie daarin om te doen net wat hy/sy wil nie, maar volgens Augustinus se definisie van Vryheid lê dit vir die mensdom daarin dat ons word wat ons bedoel is om te wees.

Ons is gemaak na die beeld van God en Vryheid kry gestalte in jou lewe - nie wanneer jy kan maak wat jy wil nie, maar wanneer jy ontdek wie Jesus vir jou is.

Vryheid kry gestalte wanneer ons oë oopgaan vir die feit dat Hy genoeg is en dat Sy sterwe en opstanding voldoende is en dat die lewe net sin maak wanneer ons kies om in verbondenheid met Hom te leef.

‘n Mens wat in Christus inklim en vanuit Hom as sy/haar enigste bron leef… so ‘n mens is vry.

Die Bybel is NIE een lang verhaal wat van ons Christene wil maak, wat net ‘n sekere klomp reëls nakom nie… en wanneer ons die lysie goed regkry, dan kwalifiseer ons nou as goeie Christene nie.  Die Bybel is wel een lang storie van God wat sy mense wil begelei uit slawerny, uit vrees, uit angstigheid tot by 'n plek van kindskap.  Vry mense weet dat hulle nie slawe van enigiets hoef te wees nie.   Hulle weet ook dat God nie ‘n baas is nie, maar ‘n pa.

Hulle weet dat hulle nie hulle pa hoef te beïndruk nie - hulle kan maar net eerlik by Hom wees, want hulle pa wil regtig die beste vir hulle hê.

Ek het die prentjie gesien van ‘n seuntjie wat saam met sy pa by ‘n braai is.  Op ‘n stadium raak hy net te moeg en sommer so tussen die gekuier en geraas, raak hy op die vloer aan die slaap sonder om bang te wees, of vrae te vra oor hoe hy in die bed gaan kom. Hy weet sy pa of sy ma sal hom dra en besorg.

Vir te lank praat ons oor Christenskap asof dit in die eerste plek die navolging van 'n gedragskode is, terwyl dit eintlik 'n totale nuwe identiteit is wat aangetrek word.

Omdat ons glo dat Jesus opgestaan het…

Kan ons ingeperk wees en tog vry;

Kan ons geld al hoe minder word en tog kan ons bly uitdeel;

Kan ons oomblikke van bekommernis hê, sonder om toe te gee aan angstigheid;

Kan ons verlang na ons maats, sonder om eensaam te wees.

Dit bring my by die vraag…vir wie is Vryheid moontlik ?

Vryheid is moontlik vir dié wat bereid is om oor te gee, want hoor hoe mooi sê Augustinus:

“God gives where He finds empty hands... A man whose hands are full of parcels can't receive a gift.“

Broers en Susters - ons loop op ongekarteerde grond.  Almal het opinies, mense maak voorspellings, almal maak planne, maar niemand weet presies hoe hierdie ding oor die langtermyn gaan uitspeel nie.  Daarom glo ek dit is nou die tyd vir gelowiges om die waarheid van ons identiteite te beliggaam deur anders as die wêreld te reageer.  Ek glo hierdie tyd is ‘n geleentheid vir die kerk om te waag waar ander te bang is om te gaan.

Dit is ‘n tyd vir die kerk om te sê “ja” - ons beleggings verloor waarde, maar ons oorwinningstatus bly vas.

Ja, ons is ingeperk, maar ek is nie ‘n slaaf van my omstandighede nie.  Ek is nie ‘n slaaf van my angs en my bekommernis nie… Ek stap in Vryheid, want dit is hoe die opstanding nou skielik nie net ‘n dag in die jaar raak oor paasnaweek nie, maar hoe die opstanding gelowiges bemagtig  om op te staan en anders te praat en anders te leef.

Broers en Susters - ‘n laaste gedagte….jy bekom nie Vryheid deur harder te probeer nie… jy bekom hierdie Vryheid deur Jesus dieper in die oë te kyk.  Indien jy in dié tyd sukkel met angs, met oormatige onsekerheid, die mure jou vasdruk,  jy wysheid kortkom - vra JESUS om deur die werking van Sy gees jou in te lei in ‘n lewe wat geanker is in die Vryheid wat Jesus Christus bewerk het.  Vryheid begin juis ook daar dat jy erken dat net God dit in jou lewe kan bewerk en net Hy jou daaraan kan bly herinner.

Ek is ‘n kind van die Opgestane HERE...

Ek is ‘n oorwinnaar...

Ek is vry...

En dit kan niemand van my steel.

Amen.

DANKOFFERS

Oorweeg asseblief om jou dankoffer elektronies te gee via elektronies bankoorplasing (EFT) of via ZAPPER.

Bankbesonderhede:

ABSA | Tak: 334-510 | Rek no. 430 580 000

ZAPPER:

Go to Top