3 Mei 2020

WELLINGTON DIGI-DIENS | Ons woon in tente (lees) | 2 KORINTIËRS 4: 16 – 5: 10

Prediker:
Teksgedeelte: 2 KORINTIËRS 4: 16 - 5: 10

LEWE DEUR GELOOF

2 KORINTIËRS 4: 16 - 5: 10

ONS WOON IN TENTE

Waaraan dink jy as jy ‘n “tent” sien?  Ek dink dadelik aan kamp en vakansie.  Dis mos lekker om te kamp en vakansie te hou, maar dit gaan gou weer verby. Dis tydelik. Dis net vir ‘n rukkie.  As ’n mens lank in ’n tent moet bly, raak dit deurmekaar en as die wind waai en dit reën, begin ’n mens sommer gou huistoe verlang.  Ons woon maar in tente hier op aarde.  Soms is dit baie lekker, maar daar is ook tye wat dit glad nie lekker is nie.  Wanneer ons swaarkry en siek word of ly of nie geld het nie, as mense selfsugtig is en nie vir mekaar omgee nie of ons gespot word omdat ons in Jesus glo - dan is dit nie meer lekker nie.  Paulus kom sê vir ons in die gedeelte wat ons nou gaan lees - ons hoef nie moedeloos te word nie, want die swaarkry nou, weeg nie op teen die ewige heerlikheid wat ons nog gaan kry nie.

SKRIFLESING

  1. DIE SWAARKRY GAAN VERBY

In die tyd van Covid 19 virus, beleef ons wat ons nog nie vantevore beleef het nie.  Soms voel dit vir ons so onwerklik.  Eers was dit net 3 weke, toe 5 en nou hoor ons van verskillende vlakke van inperking.   Ons is soms maar onseker oor wat kan ek en wat mag ek nie doen nie. Die wegneem van ons vryheid is nie so maklik nie.  Party word nog erger getref wat min ruimte het.  Ons weet dit moet verbygaan, dis tydelik, maar ons weet net nie wanneer nie.  Dis amper soos die wederkoms. Ons weet en glo dit kom, maar ons weet net nie wanneer nie.

Paulus kom sê vandag vir ons, dat ons as gelowiges nie moedeloos moet word nie. Die swaarkry hier op aarde gaan verby. Onthou jy woon nou in ’n tent.  Dis net tydelik - soos ’n naweek of vakansie.  Al gaan dit hoe swaar hier op aarde met jou, dit weeg nie op teen wat jy in die hemel gaan beleef nie.  Dis gaan só wonderlik wees, jy kan dit nie eers met woorde beskryf nie.

Ons moenie vertrou op wat ons sien en wat ons het nie, want dit gaan alles verby.  Dis net tydelik.  Ons lewe maar vir 70-80 jaar en in uitsonderlike gevalle tot 100 jaar. Vra maar vir die ouer mense - dit gaan soos ’n oogwink verby. Ons lees hier dat ons uiterlik vergaan – ouer word soos ’n tent wat vir maande in die son staan en verweer. Ouer mense word swakker en kan nie meer alles doen wat hulle wil en kon doen nie, maar daar gebeur iets met ’n mens hier op aarde, selfs deur die swaarkry. Ons word innerlik vernuwe – nuut gemaak. Die Heilige Gees verander ons om al meer soos Jesus te word.

Dit laat my dink aan die seuntjie wat ’n beeldhouer dopgehou het wat besig was om ’n beeld uit ’n rotsblok te kap. Hy vra toe vir die beeldhouer:  ”Wat maak jy?”  Die beeldhouer antwoord toe: ”Ek kap net alles af wat nie soos ’n perd lyk nie.” God is gedurig besig om dit wat nie soos Jesus is nie, af te kap. Jesus sê mos Hy snoei ons soos ’n druiwestok sodat ons nog meer vrugte kan dra. Hy verander ons gedurig sodat ons nie meer vir onsself lewe nie, maar die behoefte ontwikkel om vir ander iets te beteken en vir mekaar om te gee.

Hy is eintlik besig om ons voor te berei vir die lewe hierna sodat ons gereed is wanneer Hy ons kom haal.  As ons mooi dink, het daar tog ook al goeie dinge gebeur in die inperkingstyd.  Alles is nie net sleg nie.  Deur dit wat gebeur, groei ons en word ons verander en kry ons begrip vir mekaar en word ons al meer bewus van God.

  1. ONS HUIS IS IN DIE HEMEL

Paasnaweek is sopas verby. Lettie het ons herinner dat ons vrygemaak is. God het ons vrygespreek van al ons sonde omdat Jesus met sy bloed aan die kruis daarvoor betaal het.  Johan het ons vanuit Romeine vertel dat ons meer as oorwinnaars is omdat Jesus die dood oorwin het met sy opstanding en dat niks ons van Sy liefde kan skei nie.

Wanneer ons swaarkry, is dit vir ons ’n wonderlike troos dat ons nie vir altyd in ’n tent hoef te bly nie, ook nie altyd op aarde nie en nie vir altyd in inperking nie.  Ons kan uitsien na ons permanente huis in die hemel wat God self gebou het - wat nie met mense-hande gemaak is nie.  Jesus het mos voor die hemelvaart belowe dat Hy vir ons gaan plek voorberei by die Vader.

  1. DIE HEILIGE GEES IS DIE WAARBORG DAT DAAR LEWE NA DIE DOOD IS

Het jy al soms gewonder of daar regtig ’n hemel is en of daar ’n lewe na die lewe op aarde is. Jy is seker nie die enigste een wat daaroor wonder en soms twyfel nie, maar in
2 Kor. 5: 5 sê Paulus dat die Heilige Gees die waarborg is van die lewe na die aardse dood.

Voor sy hemelvaart het Jesus gesê dat Hy na sy Vader toe gaan en vir ons gaan plek voorberei en dat Hy sy Vader sal vra om sy Gees te stuur sodat Hy vir altyd by ons kan wees. Die belofte het waar geword op Pinksterdag met die uitstorting van die Heilige Gees. Jesus het belowe en dit het gebeur.  Die feit dat die Heilige Gees uitgestort is, is die waarborg dat Jesus ook weer kom en dat daar ’n lewe na die aardse dood by God is. Ons hoef nie moedeloos te word nie.

As ek myself vandag moet afvra: Wie is ek?  Wie is ons as gelowiges? Dan kan ons net sê: Ons is tentbewoners.  Alles hier is net tydelik.  Die swaar en die nie-lekker dinge gaan verby, want ek weet en ek glo daar wag ’n hemelse huis op my. Ek is nou al ’n burger van die hemel, want ek glo in Jesus wat vir my aan die kruis gesterf het en opgestaan en lewe en vir my plek voorberei in die hemel by God. Dit gaan daar só wonderlik wees - ’n mens kan dit nie met woorde beskryf nie. Daarom hoef ons nie moedeloos te word nie – ons leef deur geloof, ons vertrou op wat ons nie kan sien nie. Ons vertrou op die beloftes van God. Ons vertrou nie op dit wat ons kan sien nie, want dit is tydelik en gaan verby.

As ons vaskyk teen ons omstandighede en al die onsekerhede, gaan ons soos Petrus wegsink in die see.  Petrus het vir Jesus gevra om op die water te loop. Terwyl hy sy oë op Jesus gehou het, kon hy loop, maar toe hy na die wind en branders kyk, het hy weggesink in die water.

As ons net na omstandighede kyk – die inperking, die ekonomie, die onsekerheid dan kyk ons teen ’n muur vas, maar om te glo is soos om oor ’n muur te loer en die wyer prentjie te sien – om God se beloftes raak te sien en daaraan vas te hou, want ons leef deur geloof. Om te glo, is om oortuig te wees van die dinge wat jy nie sien nie.

Soos ons uitsien dat die Covid-19 inperking moet verbygaan, sien ons ook uit om by God in die hemel te wees, maar ons is nog hier op aarde en nog in die inperking. Sekere dinge is lekker en ander nie.  Ons wil eintlik hier wees & daar wees, maar dan sê Paulus in
2 Kor. 5: 9 - Ag wat - of ek hier op aarde woon of in die hemel - Ek het net een wens en dit is om te lewe soos Hy wil.

Mag dit ook ons lewensingesteldheid hier op aarde en in die inperkingstyd wees om te lewe soos God wil, te doen wat Hom gelukkig maak en wat vir Hom aanvaarbaar is. Kom ons hou die oog op Jesus en ons bly glo in die beloftes van die Woord, al kan ons dit nie sien nie.

Amen.

 

DANKOFFERS

Oorweeg asseblief om jou dankoffer elektronies te gee via elektronies bankoorplasing (EFT) of via ZAPPER.

Bankbesonderhede:

ABSA | Tak: 334-510 | Rek no. 430 580 000

ZAPPER:

Go to Top