28 Junie 2020

WELLINGTON DIGI-DIENS | Hoe kyk ons na mekaar (lees) | Matteus 10: 40 – 42

Prediker:
Teksgedeelte: Matteus 10:40-42

KONINKRYKSTYD #4

HOE KYK ONS NA MEKAAR (GASVRYHEID ONTSLUIT GOD SE AANWESIGHEID)

Ds Johan Crous

Skriflesing: Matteus 10:40-42

Inleiding

Ons fokus vandag in Matteus 10:42-44 op gasvryheid. Jesus is besig in sy tweede belangrike toespraak in Matteus met die uitsendingsrede.  Jesus het die dissipels nou al voorberei vir die werklikheid van vervolging (10:16-25).  Hy het hulle bemoedig om nie bang te wees nie, want God sal sorg (10:26-31).  Hy het hulle aangemoedig om Hom as Christus te bely en nie te verloën nie (10:32-33), want die werklikheid is dat lojaliteit aan Hom skeiding sal bring (10:34-39).  Maar, Hy bemoedig hulle ook dat Hy sal sorg dat hulle gasvry ontvang word.

40"Wie julle ontvang, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. 41Wie ’n profeet (wat kom en gaan OF die dissipels) ontvang omdat hy ’n profeet is, sal ’n profeet se beloning ontvang; en wie ’n goeie (regverdige = gewone mense)mens ontvang omdat hy goed is, sal ’n goeie mens se beloning ontvang. 42Wie aan een van hierdie geringstes net ’n beker koue water gee omdat hy my dissipel is, sál sy beloning kry. Dit verseker Ek julle.”

1.  Abram ontvang vreemdelinge

Genesis 18Die skrywer vertel hoe Abraham op die warmste van die dag by die ingang van sy tent sit.  Sy tent is opgeslaan by die hoë terpentynbome van Mamre.  Dan daag God op. Abraham dog eers dis drie gewone menslike besoekers.  Daarom doen hy wat in die destydse wêreld van ’n mens verwag is.  Hy volg die gasvryheidsreëls van die Ou Nabye Oosterse wêreld.  Hy draf nader aan die besoekers, buig voor hulle, gee hulle water, was hulle voete, en bied vir hulle skaduwee aan waar hulle kon rus.  Asof dit nie genoeg is nie, het hy die hele huishouding in rep en roer om ’n feesmaal voor te berei – sestien kilogram meel vir roosterkoeke, ‘n jong kalf op die spit.  Terwyl hulle eet, en hy hulle bedien, vra die besoekers uit oor Abraham se vrou.  Op hierdie punt begin die skrywer die enkelvoud gebruik: “Toe sê die Here…” (Gen 18:13). En ons besef, die drie besoekers is God self.  Was die drie besoekers mense of was hulle engele?  Abraham en Sara het gedink dis mense, besef ons dit is engele in die gedaante van mense.  Maar, die belangrike is, in hierdie drie mense, engele het Abraham en Sara God self ontmoet. Saam met die Here ontvang hulle ook die belofte.  Sara sou die volgende jaar ’n seun hê, en só sou die belofte van die Here in vervulling gaan dat Abraham ’n groot nasie word.

2. Wat is gasvryheid

Ons fokusteks vandag gaan oor vriendelike gasvryheid! Nou wat beteken die snaakse woord gasvryheid? Romeine 12:13: “Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid.”

Ons leef in ‘n vreemde tyd waarin dinge vir ons vreemd is.  Gasvryheid het veral te make met vreemde en anderse mense, mense met wie jy nie normaalweg as vriende assosieer nie.  Die Griekse woord vir gasvryheid is philoxenia – “liefde vir vreemdelinge”.  Om vreemdes te verwelkom in ons lewens.  Hoe lyk die vreemdeling?  Die mense wat langs en oorkant ons bly, die persoon saam met wie ons werk, ons paaie kruis met mense in die winkels, in rye, met die persoon agter die kasregister, persoon by die kerk, die vreemdeling wat positief getoets is en sy/haar familie, die persoon wat aan jou deur klop en vra vir kos/ glas water.

Gasvryheid beteken om uit jou gemaksone te beweeg, ’n grens na ander oor te steek, en vreemdelinge welkom en veilig te laat voel.

Adele Calhoun beskryf gasvryheid as volg: “to be a safe person who offers others the grace, shelter and presence of Jesus”.

Dit beteken dat gasvryheid ’n ongelooflike belangrike manier is waarop ons as kinders van die Here met mekaar moet omgaan, en hoe ons in hierdie wêreld teenoor ander moet optree, nie net teenoor bekendes nie, maar ook teenoor vreemdelinge.  Gasvryheid is ’n leerskool in hoe God se teenwoordigheid werk.

3. Ontvang mense en ontvang Jesus

40–41 “Ek en julle werk saam in ’n span. As iemand vriendelik met julle is, dan is hulle ook vriendelik met My en met my hemelse Vader. Die Nuwe Testament vir Kinders

"Wie julle ontvang, ontvang My en wie My ontvang, ontvang Hom wat my gestuur het." Volgens vers 40: dié wat die dissipels met gasvryheid ontvang/ verwelkom en hulle ondersteun, ontvang daarmee eintlik die Here Jesus self, d.w.s. God self, en sal hulle beloning verseker kry.  Dit word drie maal herhaal om dit te onderstreep. En wie Jesus ontvang, ontvang ook die Vader.   Soos Abraham en Sara beleef het.

Toe Ria een Saterdagoggend by haar voordeur uitgestap kom, sien sy daar lê ‘n brief in haar posbus by die hek.  Snaaks, daar word nooit so vroeg pos afgelewer nie! Sy haal die brief uit en kyk na die koevert. Net voor sy dit oopmaak, kyk sy weer na die koevert. Daar is nie ‘n seël of poskantoorstempel op nie.  “Liewe Ria,” lees sy, “ek gaan in julle woonbuurt wees en ek wil graag Saterdag kom kuier. Met tere liefde, Jesus.”  Haar hande het gebewe toe sy die brief terugplaas op die tafel. Hoekom wil die Here vandag vir my kom kuier? Ek is ‘n doodgewone mens en het niks om vir Hom aan te bied nie!”  Met dit in gedagte onthou Ria dat haar koskas leeg is. “O aarde, ek het niks om vir Hom voor te sit nie!”  Sy haal haar beursie uit en tel R15,40. Toe draf sy winkel toe en koop ‘n vars brood, ‘n halwe liter melk en ‘n paar stukkies gesnyde kouevleis. Toe het sy R3,51 oor om haar vir die res van die naweek deur te sien tot Maandag.  Sy is so verdiep in haar planne om dié eenvoudige maaltyd so goed moontlik vir haar gas voor te sit, dat sy nooit die vuil, stinkende boemelaar in die stegie buite die winkel opmerk nie.  “Asseblief, Mevrou,” sê hy, “ek kry nie werk nie. As u sal help, sal ek dit opreg waardeer.”  “Jammer, maar ek ontvang vandag ‘n belangrike gas en al wat ek het om voor te sit, is dit was ek so pas met my laaste geld gekoop het.”  Toe sy sien hoe die boemelaar bibber, sê sy: “Neem hierdie kos. Ek sal wel iets anders kan opdis vir my gas.”  Toe Ria tuis kom, lê daar weer ‘n brief in haar posbus.  “Liewe Ria, dit was so goed om jou weer te sien. Dankie vir die heerlike ete. Met innige liefde, Jesus.”  Ons dink altyd dat Jesus volgens Matt. 5 net in die vorm van ‘n behoeftige by ons kom besoek aflê, maar ek is oortuig Hy kom ook dikwels in die vorm van ‘n kliënt, kollega of ‘n buurman, of dalk selfs in die vorm van ‘n familielid, besoek aflê.  Feit bly staan, Hy is elke dag hier in ons buurt en kan enige oomblik vandag by my en jou kom kuier.  En Hy sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie. Matt 25:45

"Ontvang" in vers 40 dui ook op die ontvangs van Jesus se dissipels en hulle boodskap.  Op hierdie manier ondersteun mense ook die uitdra van die evangelie. Hulle ontvang Jesus en die genade van God. Wanneer ons die evangelie vir ander bring, word ons ’n kanaal waardeur mense God self ontmoet.  Oral waar jy die Here Jesus Christus vrymoedig bely, oral waar jy uitreik na iemand om iets vir hulle te beteken, dáár word jy ’n kanaal waardeur iemand God kan ontmoet.  Die Here moedig jou aan die eenkant aan om ’n kanaal te word sodat ander God kan ontmoet.  Die Here moedig jou egter ook aan die ander kant aan om diegene wat na jou toe kom met die evangelie gasvry te ontvang, want daardeur sal jy self God ontmoet.

4. Die loon van ontvang

Vers 41 plaas die aksent op die loon wat wag op mense wat Jesus se dissipels ontvang. Die dissipels word hier as profete en "goeie mense" ("regverdiges") geteken. Wie hulle ontvang, sal dieselfde loon as hulle ontvang.

En die beloning is, volgens Hebr 13:2: “Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves.” Abraham wat die 3 vreemdelinge ontvang het – Sara wat ‘n kind gaan baar – menigte nasie gaan begin.

Pred 1:1 Werp jou brood op die water, want eendag sal jy dit terug kry.

Die Here se gestuurdes ontvang God se seën. Maar ook diegene wat hulle ontvang deel in hierdie seën. Hierdie vrug is moontlik omdat die Vader Jesus gestuur het, en omdat Jesus dissipels roep en stuur. Om te deel in die seën, moet mens Jesus ontvang.

WWJD - “A powerful and thought-provoking story about four individuals—a singer, a newspaper editor, a wealthy philanthropist and a Minister who lost his faith—all vowing to walk in ‘the steps of Jesus.’ ‘n Vreemdeling stap in hierdie mense se lewens in.  Aanvanklik verwerp hulle hom, maar toe hulle met die vraag gekonfronteer word Wat Sal Jesus Doen verander hulle lewens en hulle ontvang nie net ‘n vreemdeling nie maar Jesus en mense gaan weer kerk toe.

5. Die eenvoudigste daad belangrik

Hierdie vreemdeling het ‘n eenvoudige vraag gevra wat mense na Jesus laat draai het.

Vers 42 sê selfs die eenvoudigste daad mag nie gering geag word nie en moet beoordeel word asof dit aan Jesus self gedoen word.

42 “Party mense wat in My glo*, is baie arm. Ander mense gee niks vir hulle om nie. Wanneer julle so iemand help, sal julle regtig ’n plek in die hemel kry. Selfs al gee julle maar net vir so iemand ’n glas koue water, sal God dit raaksien. Want Hy is vriende met almal wat in My glo*.”  (Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.)

Jesus noem dat gasvryheid selfs daarmee te doen het om vir iemand ‘n glas koue water te gee. Vir ons is dit maklik nie waar nie: Jy stap na die yskas toe waar gewoonlik ‘n houer koue water gebêre word en jy skink vir iemand ‘n glas koue water.  Maar in Jesus se tyd was dit nie so maklik nie- hulle het nie yskaste gehad nie. So hoe het ‘n mens in Jesus se tyd vir iemand ‘n glas/ beker koue water aangebied? Met groot moeite!

Die enigste moontlike manier was om na die naaste put te gaan en daaruit water op te hys met die swaar emmer en dan vir hom of haar in te skink. Maar daar was nie by elke huis ‘n put nie- putte was soms vêr en dan moet jy nog In die middel van ‘n warm dag soontoe stap- een of twee of selfs drie kilometer.

Die boodskap het gewoon daarmee te doen dat wanneer jy moeite doen vir iemand anders, dan doen jy so iets asof vir Jesus! Hy sien dit raak- en dit maak sy hart bly as jy vir ander omgee… Selfs met ‘n glas koue water!  Hierdie eenvoudige dade van ondersteuning en versorging is van die grootste betekenis denkbaar.

Mother Teresa called this verse her five finger gospel which she taught each person in her order and each person she had the opportunity to pass it on to. Each finger represented the words: you – did – it – to – me. At the end of your life the five fingers will either excuse you or accuse you for doing it unto the least of these

Dan besef ek opnuut as ons nie hande uitsteek na mekaar en mekaar dra nie gaan niemand van ons aan die einde hiervan iets hê om oor te droom nie (nav ‘n Dana Snyman artikel)

 

Samevatting

Jesus sê dus vir ons hier dat God in ons lewens aankom deur die mense wat God na ons stuur.  Ons keuse om mense te ontvang, of nie, bepaal dus of God in ons leefwêreld aankom, of nie.  Deur ander mense gasvry te ontvang, neem ons deel aan die koms van God se koninkryk, of nie.

Ja, kan ons byvoeg, daar is duisende mense wat smeek dat iemand van God in hulle lewens aankom. Iemand wat God se liefde, wysheid en leiding vir hulle 'n werklikheid kan maak. Iemand wat hulle kan laaf met die genesing en verkwikking wat God bring.

Soos Eugene Peterson sê: “This is a large work I’ve called you into, but don’t be overwhelmed by it. It’s best to start small. Give a cool cup of water to someone who is thirsty, for instance. The smallest act of giving or receiving makes you a true apprentice. You won’t lose out on a thing.”

DANKOFFERS

Oorweeg asseblief om jou dankoffer elektronies te gee via elektronies bankoorplasing (EFT) of via ZAPPER

Bankbesonderhede:

ABSA | Tak: 334-510 | Rek no. 430 580 000

ZAPPER:

 

Go to Top