7 Junie 2020

WELLINGTON DIGI-DIENS | Dans in alle seisoene (lees) | Matteus 28: 16-20 en 2 Kor 13: 10-13

Prediker:
Teksgedeelte: Matteus 28: 16-20 en 2 Kor 13: 10-13

Dans in alle seisoene

Ds. Francois Human (7 Junie 2020)

Teks:  Matteus 28: 16 – 20   &   2 Korintiërs 13: 10, 11 en 13

‘n Seuntjie sit sy fiets teen die parlement se heining neer. ‘n Polisieman kom nader en vra: Hoekom sit jy jou fiets hier neer…weet jy nie die ministers kom hier verby nie?

Toemaar oom, sê die seuntjie, moenie bekommerd wees nie ek sal my fiets sluit. (so ‘n tong in die kies storie….hartseer en waar) Uit dit sou ons kon dink alle ministers is korrup….en dis nie so nie.

Ghandi was lief om te sê – ek hou van julle Christus, maar ek hou nie van julle Christene nie.

Dis van die aanklagte wat Christene soms hoor…alle ministers, alle mense, alle Christene is so, maar dit is gegrond vanuit ‘n sekere perspektief. Vandag se gedeelte wil ons help om te sê daar is meer. Ontdek eers wie en wat God is voordat jy na mense, jou omgewing, die wêreld kyk. Ons verwonder ons eers oor God die Vader, die Seun en die Heilige Gees….dan kyk ons vanuit sy perspektief.

Oom Attie van Wijk wat jare lank “Uit die beek” dagboeke geskryf het, het eendag die mooi uitbeelding gehad oor hoe God is (omdat dit so wyd is) 2 Kor 13:11 sê - God is liefde……lees 1 Kor. 13: 4 – 7. Dis hoe Sy vaderhart klop – vol liefde, omgee, waarheid, vergifnis en geduld.

Nou weet ons ook – daar is ‘n stuk waarheid in die aanklagte, want ons maak foute en ons maak soms droog. Ons doen nie alles reg nie. En dis hier waar Jesus Christus weer vir ons betekenis kry. Hy het ons kom help en kom red. Hy het die mense met foute nader getrek, die prostitute met respek hanteer,  by die swakkes gaan kniel en by die korruptes van sy tyd gaan eet. God die Seun het my en jou uit die modderbad kom red en aan ons vrygekoopte status kom gee.

Matt. 28: 19 stuur ons om hierdie wonderlike nuus te gaan vertel aan alle nasies – vertel vir almal van die God wat ons anders laat sien. Die God wat perspektiewe verbreed. Vertel vir almal hoe HY mense se lewens verander.

Here, maar ons is skrikkerig en bang, want mense sal ons tekorte sien. Dan sê HY – moenie bang wees nie, Ek is by julle al die dae van julle lewe….God die Heilige Gees is saam met ons. Wys vir die wêreld wie Ek is. Al is julle kwaad en frustreerd soms…wys wie Ek is.

“Life is not waiting for the storm to pass, it’s learning to dance in the rain.” Ons kan nie wag totdat alles eendag sogenaamd normaal is voordat ons kan dans nie. Nee, God die Vader, Seun en Heilige Gees wil ons laat leef, ons optel, help en gebruik in alle seisoene. In stormagtige tye en in voorspoedige tye. Hy wil dat ons dans op die ritme van sy genade oral waar ons gaan. Op nuwe onbekende paaie en op bekende paaie – leef Sy opdrag  by die kerk se werksaamhede, by die Boerevereniging, Polisie, ACVV, Ouetehuis, Skole en ons Kinders, plaaslike besighede,  projekte wat hulp verleen……EN wees ook gehoorsaam wanneer jy nuwe horisonne moet oorsteek om SY Drie-enige naam uit te dra en te dans op nuwe plekke, nuwe geleenthede, teenoor nuwe mense met ander perspektiewe.

HY het soms lagplooie om sy oë om saam met ons te lag en soms het HY trane op sy wange om saam met ons te vertoef in ons seer.

God die Vader, Seun en Heilige Gees wil jou laat dans op sy genade ongeag watter seisoen dit is. In of na die wêreldoorloë, nuwe SA, Covid 19…somer, winter, herfs, lente – Hy is saam met ons sodat ons sal dans. My God is so groot, so sterk en so magtig.

 

DANKOFFERS

Oorweeg asseblief om jou dankoffer elektronies te gee via elektronies bankoorplasing (EFT) of via ZAPPER

Bankbesonderhede:

ABSA | Tak: 334-510 | Rek no. 430 580 000

ZAPPER:

 

Go to Top