31 Mei 2020

PINKSTER DIGI-DIENS #2 | Pinksterfees | (lees) | Habakuk 2: 1;  2: 4;  2: 20 en Openbaring 7: 15-17

Prediker:
Teksgedeelte: Habakuk 2: 1;  2: 4;  2: 20 en Openbaring 7: 15-17

PINKSTERSONDAG - 31 Mei 2020

(Ds. Lettie Büchner)

 

Môre Susters en Broers

Of as ek sou voortgaan in Habakuk se styl, sou ek julle ook vanoggend kon groet as: Mede-worstelaars.

Ek dink die een vraag wat Habakuk ons vra is… Hoe goed is jy met wag? Ons gaan vanoggend oor hierdie vraag dink en twee bakens oprig wat ons kan help om te wag - soos mense van geloof betaam.

Ek vertrou dat baie van julle ‘n geseënde tyd met die boek Habakuk gehad het en dit is vir my ‘n voorreg om die reeks vanoggend op Pinkstersondag saam met julle af te sluit.

Ds. NJ van As lees vir ons drie teksverse uit die boek Habakuk. Drie verse wat ek dink iets van die kern van die boek saamvat en dan lees hy ook vir ons Openbaring 7: 15-17. Ek gaan nie probeer om die Openbaring-teks uit te lê nie,  maar ek gebruik  dit as ’n herinnering  dat daar ‘n groter verhaal is wat afspeel en dat ons tog nooit moet dink dat dit waarmee ons nou besig is, al is wat daar is nie.  Die God wat ons dien, het ‘n planaansig wat nie beperk is tot die hier en nou nie. Die Openbaring-teks gee vir ons net ‘n voorsmakie en herinner ons aan waar ons almal voor die aangesig van God sal opeindig.

Habakuk 2: 1;  2: 4;  2: 20 en Openbaring 7: 15-17

Hoe goed is jy met wag?

Ek wens ek kon julle antwoorde hoor, want ek vermoed dat daar baie mense is wat sal sê - wag is nou nie een van my beste eienskappe nie. Ek verkies vinnig, ek verkies oplossings, gouer as later.  Ek hou nie van tyd mors nie;  dinge moet gebeur.

In die boek Habakuk het ek die week geleer dat die woord ‘geloof’ in die OT dikwels as ‘wag’ vertaal kan word en dat mense van geloof nie kan kies of dit ‘n eienskap is wat hulle wil omarm nie. Om van hierdie wêreld sin te kan maak, vra van my en jou soms om geduldig te kan wag, veral en juis omdat ons diep oortuig is van die karakter van dié Een op wie ons wag.

Habakuk help ons in Hoofstuk 2: 4 en 2: 20 met ankers of bakens wat ek dink essensieel is om te verstaan en in te oefen indien ons beter wil raak met wag of anders gestel... ons wil groei in geloof.

Die eerste baken vind ons in hoofstuk 2: 4 - wat praat oor die regverdige wat sal bly leef, omdat hy getrou leef… ek kan nou nie in fyn besonderhede oor die moontlike vertalingsopsies van die teks gaan nie, maar jy kan gerus gaan luister hoe Prof. Jonker dit in die Bybelskool 3 mooi verduidelik… ek slaan nou heelwat stappe oor net om by die plek te kom om ons vandag te herinner dat mense wat goed wil wag, hulself die heeltyd moet herinner dat die sukses van ons geloof nie in die eerste plek van ons vermoë afhang nie, maar dat dit diep geanker lê in die wete dat wanneer ons in Christus glo, ons gemeet word aan Christus se geloof. Wie natuurlik vir ons, wat met ‘n nuwe testament bril die teks lees, daarmee help is Paulus in sy baie bekende Rom. 1: 17 wat sê dat mense vrygespreek word omdat hulle glo. Wat Glo?… glo dat Christus se kruisdood voldoende is. Deur in Hom te glo word  ons as’t ware deur Christus se geloof aangetrek.  Ek vind dit so bevrydend dat wanneer ek sukkel om te wag, wanneer ek sukkel om te glo, ek nie vir myself hoef te sê om harder te probeer nie, maar eerder vir myself te herinner om dieper te gaan dink oor wie ek in Christus is.

 

 

Die tweede baken, wat Habakuk oprig, is om ons te herinner dat mense van geloof - goeie wagters voordurend oefen wat beteken om in die teenwoordigheid van die Here te leef.  En dit is juis wat ons ook vandag vier.  Ons hou tog sò daarvan om die Gees se werk ingewikkeld te maak en te vertel hoe ontoereikend Sy werke vir sommige is, terwyl die kern van die Gees se werk is om te getuig van die nabyheid van Christus.  Dit is vir my so treffend hoe die atmosfeer van die boek Habakuk verander van hoofstuk 2 na 3…net na die vers in 2: 20 waar God se teenwoordigheid verklaar word en asof die bewussyn van God wat naby is, by jou is… die mees voldoende antwoord is wat ek en jy ooit sou voor kon vra.

God woon in my, of ek opstaan en of ek gaan slaap, of ek in ‘n diep donker gat sit en of ek fees vier... God is daar…dit dink ek is een van die kern gedagtes van die boek…God gee dalk nie klinkklare antwoorde vir my en jou vrae nie, maar Hy gee Homself.

Broers en suster: Besef jy God se Gees woon in jou? Hy is nader as jou vel, hy is in die gedagtes wat jy dink. Ons vergeet dit sò maklik en ek het besluit dat ek dit weer wil begin oefen… ek wil in die oggend opstaan en voor ek my voete van die bed afsit, wil ek myself herinner – ‘jy is nie alleen nie’. Wanneer ek groot besluite moet neem, wil ek eers stop en asem haal en sê:  God jy is ook mos hier... Hoe moet ons nou maak….??? Wanneer ek in die chemostoel sit ... Wanneer ek ‘n Gr 1’tjie wil leer lees.

En dan wil ek dit ook ‘n stappie verder neem…

As geesvervulde wagters, gelowiges, is ek en jy ook geroep om God teenwoordig te maak daar waar mense sukkel om Hom te sien. Hoe word ons optrede teenoor ander beïnvloed wanneer ons oor onsself as medewerkers dink, as die teenwoordig-makers van God se Gees. Ek het soveel getuienisse in my eie lewe, waar ek met goed geworstel het en mense wat opgedaag het.  Sommer net onlangs na een van daardie nuttelose Facebook-kyk sessies - voel ek asof ek so ver tekort skiet as ek sien met hoeveel erns en passie die ma’s hul tuisskool aanpak.  Nadat ek dit met my kinders deel... kyk my dogtertjie my in die oë en sê: “… mamma jy is genoeg...” en op daardie oomblik het sy God by my teenwoordig gemaak, want ek glo dit is presies wat God vir my sou wou sê.

My gebed is dat die Gees van die Here wat oor ons uitgestort is, ons geduldige, wagtende gelowiges sal maak wat midde ‘n gebrek aan antwoorde, sal toerus met ‘n diepe vrede omdat God teenwoordig is. En dat dit ons sal beweeg om na die Gees wat naby jou is, te luister oor waar jy in die week God moet help sigbaar maak in iemand se lewe. God  is reeds daar, dit is nou nie asof jý Hom teenwoordig maak nie, maar soms het mense ‘n hupstoot nodig.

Vandag, Pinkstersondag is ook die perfekte dag om nagmaal te vier, omdat met die gebruik van die nagmaal ons vatbare tekens ontvang wat ons juis wil herinner aan die twee bakens waaroor ons gepraat het:

Deur Jesus se geloof word ons regverdig verklaar.

Hy is oral, en ook spesifiek in die tekens van die nagmaal, teenwoordig.

 

Wanneer ons saam hierdie sakrament ontvang, kan ons ten diepste weet dat Jesus Christus, op ‘n besonderse wyse hier, nou, deur Sy Gees, by ons teenwoordig is. Soos ons die brood eet, en die wyn drink, en hierdie tekens in ons liggame opgeneem word, so word ek en jy opnuut in Christus aan God gebind. Ons word opnuut herinner aan die Prys wat hy betaal het, sodat ons die volkome vryspraak kan ontvang.  Ons word ook so, deur die werking van die Heilige Gees, in hierdie moment aan mekaar, as die liggaam van Christus, tot eenheid gebind.

Die brood wat ons breek is die gemeenskap met die liggaam van ons Here Jesus Christus. Neem, eet, dink daaraan en glo dat sy liggaam gebreek is tot volkome versoening vir al ons sondes.

 

Die beker van danksegging is die gemeenskap met die bloed van ons Here Jesus Christus. Neem, drink, dink daaraan en glo dat sy kosbare bloed vergiet is tot ‘n volkome versoening vir al ons sondes.

Amen

Mag jy op hierdie Pinkstersondag saam met Habakuk weet dat God se teenwoordigheid in ons lewe die wêreldse verskil maak.

 

DANKOFFERS

Oorweeg asseblief om jou dankoffer elektronies te gee via elektronies bankoorplasing (EFT) of via ZAPPER

Bankbesonderhede:

ABSA | Tak: 334-510 | Rek no. 430 580 000

ZAPPER:

Go to Top