30 Augustus 2020

40 DAE DIGI-DIENS | Die Bybel as Swaard (lees) | Hebreërs 4:12 +13 & Efesiërs 6:13 -17

Prediker:
Reeks:
Teksgedeelte: Hebreërs 4:12 +13 & Efesiërs 6:13 -17

Die Bybel as Swaard

Ds. Francois Human

30 Augustus 2020

 Skriflesing:  Hebreërs 4:12 +13  & Efesiërs 6:13 -17

Gemeente, baie van ons sal nog die tekenprent Brakanjan en die 3 Musketiers onthou.  Hulle was altyd op ‘n missie om êrens vir iemand tot hulp te wees.  Aan hul sy was altyd hul swaarde – die Musketiers het hulle swaarde geken, hulle het daarmee geoefen, hulle het bepaalde vaardighede ontwikkel.

Op hierdie 40 dae reis – Wil ons vir paar oomblikke stilstaan by die beeld van die Bybel as Swaard.  Hoe ek my swaard ken, hoe ek oefen en hoe my vaardighede ontwikkel.

Die goewerneur van een van die Amerikaanse state was bekend daarvoor dat hy ‘n dinamiese spreker was.  Hy het altyd met vindingryke planne en wetgewing voor ‘n dag gekom.  Dit was te danke aan die span wat saam met hom gewerk het.  Hulle het sy toesprake geskryf en sy strategieë beplan, MAAR nooit het hy erkenning gegee aan hulle wat hom help nie.  Op ‘n dag moes hy ‘n nuwe 5-punt plan aankondig.  Maar soos baie keer, het hy nie sy toespraak voor die tyd gelees nie, want sy sekretaris word betaal om dit te doen. (Inleiding….omblaai “now your on your own, your big American hero”)

Soos hierdie goewerneur ontbloot is vir wie en wat hy is….so wil die Woord van God ons ook ontbloot. Ons kan iets dalk vir mense wegsteek, maar nie vir die Here.

Die Bybel wil vir ons raad gee, adviseur….ja, ons inspireer om ‘n eerlike lewe voor die Here te leef.  Soos Hebreërs 4: 13 – alles lê oop en bloot voor sy oë. Ontmasker.

Hoe wonderlik sou dit nie wees as die korrupsie en magsvergryp wat tans in ons land heers, bloot gelê kon word.  Al die gestelery van armes, die rassisme, die misdade wat gepleeg word. Sonder enige kommissie – want hulle staan ontbloot voor God. Dit is nie oordeel nie, dis ‘n pleit om die waarheid te leef.

Daardie selfde woorde geld ook vir my en jou – en is nie om te veroordeel nie, maar ‘n stuk aanmoediging om alles met God te deel. Ook ‘n stuk troos - ek mag met alles na Hom toe gaan.  Die Bybel as swaard wil ons help om ons te beskerm teen hierdie aanvalle van die bose.

Een van die groot remskoene om jou geloof voluit te leef….is om jou ‘n slaaf van die verlede te maak.  Mense wat jou aanhoudend jou aan jou verlede wil herinner.  Die swaard kom maak ons los…sny ons los van die verlede, sodat ons vry kan leef.

Sien wanneer ons vry is en met enigiets na God  kan gaan – dis ook dan wanneer ons genees word en ook gevoed word.  Efesiërs moedig ons aan om die swaard van die gees te vat, dit te leer ken…..ken jou swaard, sodat jy ook kan weet hoe om in alle opsigte op te tree.  Dink die gebruik kom van die Franse om by ‘n bruilof ‘n swaard te neem en ‘n sjampanjebottel se nek af te slaan sodat die feesviering kan begin. Om SY woord te leer, oop te maak leer dit ons die fees van die lewe. JOU lewe in oorvloed.

Hoe gaan jy bv. jou buurman antwoord, indien jou buurman vir jou sou sê: - “Ek is eintlik nie so sleg nie. Ek is net ‘n doodgewone mens wat werk en vir my gesin sorg. Ek glo daar is ‘n God. Ek gaan nou wel nie elke Sondag kerk toe nie, maar ons gaan Sondae kerk toe en ons gee so af en toe van ons ou klere vir die Armsorg. Ek glo daarom dat ek eendag sal hemel toe gaan”.  Wat gaan jy doen indien iemand vir sê: - “Jy is mos ‘n Christen. Ek is die laaste ruk doodbang dat ek skielik gaan sterf en hel toe sal gaan. Hoe moet ek maak om hemel toe te gaan?” Hoe gaan jy hom of haar antwoord?  Die Heilige Gees sal jou help en herinner wanneer jy vashaak, maar Hy gaan jou normaalweg nie help as jy geen Woord in jou het nie.

Romeinse soldate het geweet dat hul oorlewing op die slagveld, afhang van hulle vaardigheid met die swaard. Hulle het bykans al hulle vrye tyd daaraan gewy om te oefen totdat hulle die bewegings in hulle slaap kon uitvoer. Suksesvolle atlete, musikante en boksers doen dieselfde. Dit is die ure se oefen – daar waar niemand jou sien nie – wat jou laat skitter wanneer die verhoog of bokskryt se ligte op jou skyn.

Ons hoef niks te vrees, want ons het die “swaard-maker”  en “swaard-skrywer” wat saam met ons is.  Alan Garity het ‘n treffer liedjie gesing – “I need someone to lean on, someone to understand, someone I can depend on, someone to hold my hand.”

HY is saam met ons, ons kan op Hom vertrou wanneer die swaard ons blootlê of wanneer ons die swaard gebruik.

 

DANKOFFERS

Oorweeg asseblief om jou dankoffer elektronies te gee via elektronies bankoorplasing (EFT) of via ZAPPER

Bankbesonderhede:

ABSA | Tak: 334-510 | Rek no. 430 580 000

ZAPPER:

 

Go to Top