26 Julie 2020

40 DAE DIGI-DIENS | Die Bybel as ‘n spieël (lees) | 2 Kor 3: 12-18

Prediker:
Reeks:
Teksgedeelte: 2 Kor 3: 12-18

40 Dae met die Bybel
Week 1
Die Bybel as ‘n Spieël
Ds. Lettie Büchner
Sondag, 26 Julie 2020

Goeiemôre / Goeiemiddag of Goeienaand liewe Broers en Susters

WIE is JY en WAARHEEN is jy op pad?

Dié vraag het Ds. Lourens ‘n paar weke gelede in een van die Digi-dienste gevra.  ‘n Vraag wat my bygebly het en wat ek meen die onderliggende vraag is wat mense bewustelik of onbewustelik hulle lewe lank probeer antwoord.  Onsekerheid oor wie jy is en waarheen jy op pad is, het soveel gesigte en het selfs die potensiaal om mense te ontspoor.

Vandag begin ons met ‘n 40 Dae reeks - 40 Dae met die Bybel - en dit is sekerlik nie toevallig dat vandag se tema my juis gehelp het in my nadenke oor die vraag wie is ek en waarheen is ek op pad? Vandag se tema help met riglyne vir die wat meer geanker en met ‘n duideliker lewensplan wil leef.

Vandag dink ons saam oor die Bybel as ‘n spieël, máár nie ‘n spieël soos ek en jy dit ken nie.  Die spieël wat ek en jy in ons huis het, gee vir jou terug wat jy vir dit gee.  As ek my hand in die lug opsteek, is dit wat die spieël vir my sal teruggee.

Die Bybel is ‘n vreemde spieël  wat vir ons ‘n alternatiewe beeld ophou wat jy begin namaak hoe meer jy daarna kyk.  Verbeel jou in jou huis was daar ‘n spieël, wat indien jy daarin kyk, jy nie noodwendig net die realistiese beeld teruggespieël kry nie, maar verbeel jou dat die spieël vir jou potensiaal terugwys.

Die Bybel gebruik op verskeie plekke die beeld van ‘n spieël en vir hierdie week wil ons vir julle nooi om na drie van hierdie gedeeltes te gaan kyk en dit op jou eie tyd te lees.
Die tekste is:
Jak. 1: 21-25
1 Kor. 13: 8-13
en dan die teks waarna ons vandag gaan kyk - 2 Kor. 3: 8-12. Die beeld van ‘n spieël word in al drie die tekste berekend en doelbewus gebruik, alhoewel elke keer met ‘n ander betekenis, met ‘n eie punt en toepassing.

Ds. Cornis gaan vir ons lees - 2 Kor. 3: 8-12

Soos jy dalk weet is dit goed om ondersoek in te stel wanneer daar woorde soos omdat, of daarom in ‘n teks voorkom.

Die gedeelte wat ons saamgelees het, begin met die woorde – “omdat ons hoop hierop gevestig is” – dit het my dadelik laat vra wat is die ‘hierop’ waarvan Paulus hier praat? … en om daardie antwoord te kry, is dit ideaal dat jy van die begin van hoofstuk 3 sal lees.  As jy daar begin lees, dan sien jy dat Paulus hier vertel van die roeping op gelowiges om aanbevelingsbriewe te wees, en dat ons dit kan wees omdat God se Gees ons toerus en bekwaam maak.  Soos wat Paulus dikwels doen, doen hy dit ook weer in vers 18, herinner hy ons dat ons krag en sukses nie in ons opgesluit is nie, maar in die Een op wie ons vertrou. Hierop is ons hoop gevestig ... op ‘n God wat meer verbind is tot ons welwese, tot ons roeping as wat ons soms self is.

En daarom wil ek sê:  Hierdie 40 Dae is ‘n uitnodiging vir ons om met die Bybel besig te raak en dat ook die Bybel nie ‘n dokument is wat ons moet waag om op ons eie krag en met ons eie insig alleen te lees nie.  Dit is die Gees van die Here wat die woorde van die Bybel vir ons lewend maak.  Wanneer ons vanuit ons eie krag die Bybel wil lees, raak dit dikwels ‘n historiese interessante of ingewikkelde dokument wat ons net uitruk waarmee ons mense wil bykom wanneer ons nie kan ooreenstem met die antwoord op ingewikkelde etiese kwessies nie.

Indien jy nie lief is vir Bybel lees nie, indien jy sukkel om dit te verstaan, is die eerste stap nie om harder te probeer nie, maar om die Gees te nooi as leesgenoot.  Hy is bereid om die metgesel te wees wat helderheid bring in so ‘n mate dat jy self verras kan word met wat jy lees.  Die Gees kan dit doen - vra Hom.

Wanneer ons die Gees nooi as leesgenoot, as metgesel, dan het die Bybel die vermoë om te doen in ons lewe wat ons in vandag se teks gelees het.  Paulus praat in vers 18 daaroor dat die woord die spieël is wat vir ons die beeld van Christus ophou en hierdie prentjie raak die herinnering van waarnatoe ons die potensiaal het om te groei.

Paulus sê dat gelowiges nie hulle groei aan geluk oorlaat met ‘n onsekere toekoms oor waar jy gaan opeindig nie.  Nee, die Woord is die bron wat vir ons die duidelikste beeld van Jesus Christus gee en wanneer ons ons bestaan aan die leiding van die Heilige Gees oorgee, dan betree ons ‘n proses van transformasie en die proses maak my beeld al meer soos die een se beeld in die spieël nl.  Christus.

Die MSG vertaling sê dit so mooi -

our lives become brighter and more beautiful as God enters our life and we become more like him.”

Wie is jy?

God se eiendom en sy aanbevelingsbrief.

Waarheen is jy op pad?

Om meer soos Christus te word.

Dit is ‘n sterk beeld wat Paulus hier gebruik.  Wanneer ons kies om voor die spieël te staan, ontmasker die Gees ons.  Dit word vir ons gedoen (die sluier word weggeneem is in die passiewe vorm) en dan is die Gees gewillig om ons op die proses van metamorfose, transformasie en verandering te neem.

En daaroor het ek gedink wil ek iets sê...

Indien enigeen van ons meen dat ons geloof onder die knie het en dat ons niks meer te leer het nie, is ons op ‘n gevaarlike plek.  Volgelinge van Christus behoort intensioneel besig te wees...
to contemplate the face of God” sê Calvyn sodat die beeld van Christus so te sê kan afsmeer aan ons en sodat ons optrede en karakter al meer kan groei in lyn met dié van Jesus.

Ek lees ‘n opmerking van ‘n lid van die Kommunistiese Party wat gesê het:

“Christianity is no threat as long as we can contain it to one day a week. It is only when it becomes a way of life that the authorities seek to step in.”

Paulus nooi ons tot intensionele geestelike transformasie wat baie verder strek as een dag per week se kerk.  Hy praat hier van mense wat sterf aan hulself en totaal oorgee aan ‘n lewe met Christus.

En soos julle sekerlik weet kom min dinge van waarde maklik in die lewe.  Alhoewel Christus die inisiatief reeds geneem het en ons die Gees tot ons beskikking het, gaan transformasie nie noodwendig per ongeluk gebeur nie. Dallas Willard noem ook dat mense moet weet dat geestelike transformasie ‘n stadige proses is - mens moet geduldig wees en intensioneel wees om ruimtes te skep vir God se Gees om ons te vorm - bietjie vir bietjie;  dag vir dag.

Hy sê vir transformasie is daar drie goed nodig:

  • VISIE
  • INTENSIE
  • HULPMIDDELE

VISIE: ‘n Groter prentjie nodig. Die visie word vir gelowiges in die teks gegee.

Die visie is om al meer soos Jesus te raak. Dit bring my terug by die Bybel as spieël. Die Bybel is die spieël waarin ons kyk en waar ons die heel duidelikste prentjie kry van wie Jesus is. Ons kan nie raai of net staatmaak op ons Sondagskool kennis van Jesus nie.  Ons moet ‘n duidelike groter prentjie kry van dié Man wie se volgelinge ons is.

INTENSIE: Dan moet ons die intensie hê.

Ek moet ‘n doelbewuste besluit neem om dit te doen of te bereik.  Dit moet vir jou ‘n keuse wees dat jy deel wil uitmaak van die visie, belangrik genoeg wees dat jy bereid is om die opoffering te maak wat nodig is om die visie te realiseer.

HULPMIDDELE:  Om hulpmiddele in plek te stel.

Gewoontes aan te kweek om hierdie lewe van Christus in te oefen en in te leef. Watter gewoontes beoefen jy as beelddraer van God, sodat die Gees jou al meer kan verander om aan die beeld van Christus gelyk te word?  Hoe lyk jou dissipline?

Ek en jy weet dat indien dit jou begeerte is om eendag gemaklik af te tree, dit vir jou nodig sal wees om ‘n begroting op te stel en elke maand gedissiplineerd te spaar.  Jy sal van hulpmiddele soos ‘n finansiële adviseur, spaarplanne ens. gebruik moet maak om by jou visie uit te kom en jy sal boonop die moontlike terugslae moet verreken.  Wat jy sal inspan om by jou plan uit tekom...dieselfde basiese beginsels geld vir jou geestelike transformasie .

Broers en Susters - Hierdie 40 Dae met die Bybel wil vir jou help met hulpmiddele en die geleentheid om meer intensioneel besig te wees met die geskenk van die Woord wat deur die werking van die GEES die vermoë het om lewens te verander.  Die Gees wat hier aan die werk is, is die Gees wat lewens transformeer en wat vir jou jou potensiaal wil wys.  Jy kyk dalk vir jouself in die spieël en jy sien niks, jou drome het dalk dof geraak en jou gevoel van waarde min… kom saam met ons op reis en nooi die Gees om jou te verras.

Ek sluit af… in my nadenke oor hoe God se Gees ons stukkie vir stukkie, op ‘n lang pad, vernuwe na die beeld van Christus, het ek die gedig onthou wat Pieter Fourie geskryf het vir my pa se begrafnis - dit sluit af met die woorde...

Elke jaar as die bome op Berluda bot

Sal ons onthou jou lewe was een lang afspraak met God.

 

Jy is genooi...

Jy het ‘n afspraak om dalk vir ‘n slag in die spieël te kyk...

Jy mag net verras word met hoe die Gees jou kan maak wie jy veronderstel is om te wees.

Amen.

 

DANKOFFERS

Oorweeg asseblief om jou dankoffer elektronies te gee via elektronies bankoorplasing (EFT) of via ZAPPER

Bankbesonderhede:

ABSA | Tak: 334-510 | Rek no. 430 580 000

ZAPPER:

 

Go to Top