23 Augustus 2020

40 DAE DIGI-DIENS | Die Bybel as Bril en Lamp (lees) | Hebreërs 11: 1, 23-27; 12: 1-3

Prediker:
Reeks:
Teksgedeelte: Hebreërs 11: 1, 23-27; 12: 1-3

Wellington Digi-Diens

Ds Cornis Botha    23 Augustus 2020
Die Bybel as bril en lamp Hebreërs 11:1, 23-27; 12;1-3

Inleiding:
Hallo vriende en baie welkom by ons diens vandag. Ons reis al die afgelope paar weke deur verskeie temas wat ons help om die Bybel te verstaan en so het ons al gesels oor die Bybel as spieël, stem, balsem en verlede week, die Bybel as wet.

Vandag gaan ons stilstaan by die Bybel as bril en lamp. Ek onthou toe ek vir my leerling lisensie gegaan het by die verkeersdepartement. Dit was die eerste keer dat ek daar kom en deur die proses gaan en toe ek by die oogtoets kom, slaag ek hom net-net. Die verkeersbeampte wat my gehelp het, sê toe dat ek moet gaan vir ’n oogtoets. Dit is toe ek my bril gekry het, wat ek werklik verstaan het hoekom dit nodig was. Die wêreld was ewe skielik vir my meer duidelik, ek het gespot en gesê ek sien nou in hoë definisie.

So is die Bybel ook vir gelowiges ’n bril en ’n lamp, wat ons help om nie net na binne te kyk nie, maar ook te kyk na die wêreld rondom ons. Ek gaan nou vir ds. Johan van Noord gemeente vra om vandag se teksgedeelte vir ons te lees.

Ons wêreld vandag:
Ons wêreld is die afgelope jaar in ’n wurggreep van ’n virus wat ons nie kan sien nie. Covid-19 het ons wêreld en die aansienlike toekoms heeltemal verander. Tot onlangs mag ons nie by vriende en familie gaan kuier het nie, eredienste is tot nou toe nog beperk, mense kon nie vir geliefdes in die hospitale en aftreeoorde besoek nie en baie het hulle werk verloor. Die lewe het al hoe meer onseker geword. Dit is in tye soos hierdie, wat ons geloof in die Bybel soos ’n bril is wat ons help om beter raak te sien, om te onderskei en te herken en om ons tot beter insig te bring, wysheid en kennis te gee. En dis waarmee ons teks en hierdie metafoor van bril en lamp, ons ook help vandag.

Ek wil graag drie opmerkings maak oor die Bybel as bril en lamp, veral wanneer ons na Hebreërs kyk, wat ons gelees het:

#1 - Geloof is om te kies om deur die bril te kyk:

Ons teks vandag is juis geskryf om mense weer te help sien wat nie altyd gesien kan word nie. Hy sê in die heel eerste vers van hoofstuk 11:

“Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie” Hebreërs 11:1.

Wanneer ek vandag sekerheid wil hê oor iets, beteken dit dat ek op een of ander wyse dit moet bewys, ek moet dit met my sintuie ervaar – ek moet dit sien, ruik, proe, hoor of voel. En selfs dit kan soms misleidend wees. Die geleerdes vermoed dat dit juis die probleem was waarmee die ontvangers van die Hebreërs brief gesukkel het – hulle het vasgekyk in die sigbare, dit wat hulle met hulle sintuie gesien, gehoor en ervaar het. Hulle het hulle bril van geloof afgehaal; hulle het moedeloos en geestelik moeg geraak.

En dit is juis waarteen ons as gelowiges moet waak in onsekere tye. Ons is so geneig om die bril af te haal, die lamp dood te blaas, wanneer tye begin moeilik raak en dan kyk ons vas in die donkerte en weet nie watter kant toe nie. Dit is wanneer ons na die Bybel kyk, wanneer ons opnuut glo in die beloftes wat Jesus maak en ons oë gevestig hou daarop, wat ons kan hoop en vertrou op die onsienlike. Dit is ’n aktiewe keuse wat ons as gelowiges moet maak om hierdie geloofsbril op te sit die lamp te neem, en die wêreld daardeur te sien.

#2 - Geloof in die Bybel is om die onsienlike te sien:

Om hierdie punt te illustreer, gaan die Hebreërs-skrywer voort ons aan ’n klomp geloofsverhale in die Ou Testament te herinner, waar mense in geloof op God vertrou het. Hy herinner hulle aan geloofsfigure wat gekies het om op die beloftes van God te vertrou, waarvan hulle geen fisiese of sienlike bewyse gehad het nie. Hulle het in hulle omstandighede nie op die sienlike staatgemaak nie, maar juis geglo in God se uitkoms wat hulle nie dadelik kon sien kom, of ervaar het nie; hulle het vasgehou aan die erfenis wat God belowe het, maar wat hulle nie nou al gehad het nie.

So vertel ons teks onder andere van Moses en hoe sy geloof in God sy lewe bepaal en gestuur het:
 Moses se ouers se geloof; het ’n droom vir hul kind gehad.
 Moses het swaargekry saam met Israel, nie uit die materiële van Egipte voordeel getrek het nie – vasgehou aan die beloftes.
 Lewe lank getrou volhard soos een wat die onsienlike sien.
Moses is ’n voorbeeld, soos baie ander, van iemand wat vasgehou het aan God se beloftes, wat geglo het in die onsienlike beloftes van God.

#3 - Geloof in die Bybel is om ons oë te hou op die onsienlike Jesus:

Dit is dan ons uitdaging, vriende, wanneer ons die lewe aanpak – om ons oë te hou op die onsienlike beloftes van Jesus, om te weet dat die Woord vir ons ’n ongelooflike skatkis vol van God se beloftes gee. Om die bril van geloof op te sit en die lamp van geloof te skyn, beteken dat ons anders na die wêreld kyk – dat ons ons oë gerig hou op Jesus en die wedloop van geloof enduit voltooi.

Die Hebreërs-skrywer sê so mooi in hoofstuk 12:1:

“Terwyl ons dan so 'n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.”

Hy sê kyk na dié wat voor julle was, almal wat God vertrou het; gooi jou laste af, dit wat jou weerhou om Jesus te sien; moenie terugkyk nie, moenie kyk na die valse beloftes wat die wêreld bied nie – hou jou oë op die onsienlike Jesus. Sit jou geloofsbril op, skyn jou lamp in die duisternis en jy sal Hom sien soos baie ander voor jou!

So word ons ook uitgenooi in ons wêreld vandag met al sy swaarkry, stukkend en sukkel: met sy dreigende resessie en werkloosheid, sy corona virus en loadshedding – tussendeur al hierdie dinge word ons uitgenooi om die bril van geloof op te sit, om Jesus te sien en met alles wat ons is en het, hierdie wedloop te voltooi – want dis deur die Woord van God wat ons seker kan wees oor die dinge waarop ons hoop en om die
onsienlike te sien.

Om ons geloofsbril op te sit, beteken dat ons sien dat dit wat Jesus in die Woord belowe, beter is as dit wat die sonde en die wêreld bied – daarom die aanmoediging om te volhard
(1 Tim 3 – bly by wat jy geleer het, Romeine 12 – gee julself as heilige offers).

Slot:
CS Lewis het die volgende gesê:

“I believe in Christianity as I believe that the sun has risen: not only because I see it, but because by it I see everything else.”

Ons kan dieselfde sê oor die Bybel en geloof in Jesus. Dat ons ons eie lewe en die wêreld anders sien wanneer ons hierdie bril opsit, is genoeg om Jesus self te sien – deur Hom word alles verlig, raak alles duidelik. Vriende, mag die Woord ons bril en lamp wees wat die wêreld verhelder, mag ons daardeur die onsienlike sien en mag ons in hierdie wêreld waarin ons leef, die goeie wedloop hardloop met ons oë gerig op op die onsienlike Jesus.
AMEN

DANKOFFERS

Oorweeg asseblief om jou dankoffer elektronies te gee via elektronies bankoorplasing (EFT) of via ZAPPER

Bankbesonderhede:

ABSA | Tak: 334-510 | Rek no. 430 580 000

ZAPPER:

Go to Top