27 September 2020

WELLINGTON DIGIBOODSKAP | Leef vanuit God se beloftes (lees) | 2 Kor 4:16 – 5:1

Prediker:
Teksgedeelte: 2 Kor 4:16 - 5:1

LEEF VANUIT GOD SE BELOFTES 

Gen. 15: 1-18

 

God se Woord is vol beloftes.  Dit versterk ons geloof.  Ons hou daaraan vas en dit vertroos ons.

Iemand het eendag gesê:  “Ek kan nie belowe en dit ook nog doen nie.  Ja, ons belowe maklik. Maar as dit by die ‘doen’ kom, gebeur dit nie altyd so maklik nie.  Maar God is nie ’n mens nie.  Wanneer Hy belowe dan doen Hy dit.  Hy is getrou.  Alles gebeur net nie dadelik nie.  Dit neem soms baie lank.

God het aan Abraham ‘n land en ’n nageslag belowe, maar Isak het eers na 25 jaar gekom en die beloofde land  na meer as 400 jaar.  Geen wonder Abraham en Sara het  God probeer help om Sy beloftes waar te maak nie.

Lees Genesis 15: 1-18

Verlede week het ons gehoor hoe God vir Abraham uit sy land en mense geroep het.  Hoe God vir hom ‘n land en nageslag belowe het.  In dié gedeelte wat ons gelees het begin Abraham twyfel omdat die belofte so lank neem om waar te word.

Hy sê vir die Here.  U Het nie vir my kinders gegee nie.  ’n Slaaf sal al my besittings erf.  Die Here verseker Hom egter dat ‘n kind uit hom gebore sal word en dat sy nageslag so baie soos die sterre in die hemel sal wees.  Dit het net gelyk of Abram dit glo en die Here vertrou.  Maar ten spyte daarvan dat die Here vir Hom sê.  Dis Ek die Here wat jou laat trek het en die land aan jou belowe het .

Dan vra hy.  Hoe sal ek weet? – Hoe sal ek weet dat dit my land is?

Toe sluit die Here  met hom ‘n verbond of ooreenkoms om hom te verseker dat dit so is, maar net  in die volgende hoofstuk maak hy en sy vrou weer  planne om ’n nageslag te kry.  Sara beveel aan dat hy ’n kind  by sy vrou se slavin kry – met katastrofale gevolge - gaan lees maar in hoofstuk 16.

God se plan was om vir Abram ’n nageslag te gee uit hom en uit sy vrou Sara, maar God doen dit toe op ’n tyd toe dit menslik onmoontlik lyk.  Juis toe hulle beide al te oud was.  Abraham was 99 en sy vrou al te oud om kinders te kry, toe hoor hulle dat hulle oor ’n jaar ‘n  seun sal hê.  En oor ’n jaar is  Isak gebore.  In Gen. 18 : 14 lees ons:  “Is iets te buitengewoon of te moeilik vir die Here?”

Na 25 jaar en na meer as 400 jaar word die beloftes waar, want God het gedoen wat Hy belowe het.

God se woord is vol beloftes.  In die Ou Testament word die Verlosser belowe.  Jesus het belowe dat die  Heilige Gees in Sy plek sal kom en Hy het gekom.  Jesus het ook belowe dat Hy weer kom om ons te kom haal na waar Hy is.

In 2 Petrus 3: 3 – “...dat mense sal spot en sê wat het nou van die belofte van die wederkoms geword?  Ons voorvaders is al oorlede en niks het nog gebeur nie.”  Dan lees ons in vers 8:  “Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag. 9Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.”

God se Woord is ryk aan beloftes, maar dit is nie daar om vir ons kitsoplossings te gee nie. Dit is daar om God aan ons bekend te stel en ons te vertroos en vir ons sekerheid te gee.

Kyk maar net wat staan in  1 Joh. 5: 13:  “Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.”

Dink maar net aan al die Jesaja tekste wat ons verseker dat God by ons is en dat ons nie bang of bekommerd hoef te wees nie.  Jes 41: 10 het al vir my en Karen so baie beteken.
Jes. 41:10 – “Moenie bang wees nie, Ek is by jou,

moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God.

Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas,

met my eie hand red Ek jou.”

Ds. Jan Grobbelaar sê nadat hulle gehoor het van Carien se beenmurgkanker, het die gemeentes hulle ondersteun deur hulle net te herinner aan God se beloftes en dat God die pad saam met hulle loop.

Ds. Bennie het in sy tyd van siekte gesê.  Nou moet ek glo wat ek gepreek het.

Uit die verhaal van Abraham het ons net weer ontdek dat God getrou bly en doen wat Hy belowe ten spyte daarvan dat Abraham getwyfel het aan sy beloftes en self probeer het om die beloftes waar te maak.

Liewe kyker - Kom ons ontdek weer opnuut God se beloftes in sy Woord.  Kom ons leef  daarúít en vertrou daarop, want God is getrou.

LEEF VANUIT GOD SE BELOFTES

God se Woord is vol beloftes. Ons lees dit en ken sommige uit ons kop uit.  Ons gee dit vir mense in nood, maar as ons self in die nood is, sukkel ons om dit toe te pas en twyfel ons soms daaraan.

Abram het die belofte van ‘n land en ’n nageslag gekry, maar toe God talm met die belofte, het hy begin twyfel.  God het sy beloftes herbevestig en selfs ’n ooreenkoms met Abram aangegaan om die beloftes te bevestig.

God se beloftes gebeur nie wanneer ons dit verwag nie, maar op sy tyd. Tog is Hy getrou en doen sy beloftes gestand.

 

DANKOFFERS

Oorweeg asseblief om jou dankoffer elektronies te gee via elektronies bankoorplasing (EFT) of via ZAPPER

Bankbesonderhede:

ABSA | Tak: 334-510 | Rek no. 430 580 000

ZAPPER:

 

Go to Top