Date: 20 September 2020

Teksgedeelte:Genesis 11:27 - 12:9 |

DIGI-EREDIENS - SONDAG 20 SEPTEMBER 2020

(Ds. Bennie J van Rensburg)

TEMA: Is ons nie al deur genoeg nie?

Teks: Gen. 11: 27 – 12: 19

 

Is ons nie al deur genoeg in 2020 nie?  Ons leef in ‘n tyd en land van wanhoop.  ‘n Land wat afstuur op ‘n mislukte staat!  Staatskaping / Korrupsie / Wanbestuur / Misdaad / Plaasmoorde / Armoede / Werkloosheid  - En toe tref Covid-19!  Asof daar nie genoeg probleme en krisisse is nie. Al hierdie dinge is besig om ons fisies, emosioneel en geestelik af te takel. Soveel slegte nuus!!!

En voel asof jy in wanhoop wil verval. Soveel ellende. Asof ons sit en wag vir ‘n hopelose einde. Is ons nie al deur genoeg nie Here?

 

Maar daar is Goeie nuus!  Die Here het ‘n plan!  Hy wil ‘n nuwe begin maak.  Hy roep jou vandag. Jy is die een. Nou is die tyd. Hier is die plek om ‘n nuwe begin te maak, ‘n verskil te maak in ’n stukkende en gebroke wêreld.  Ons kyk na die roeping van Abraham en wat sy verhaal vir ons vertel van ons roeping.  Die volgende 4 weke gaan ons gesels oor ‘n lewe saam met God en wat Abraham vir ons leer.

 

Die eerste ding wat hierdie verhaal vir ons wil leer uit die gedeelte van Genesis is - Dit het nag geword vir die mens....en dan kan ons inderdaad te vraag vra:  onthou God ons nog?  ‘n Mens kan nie die verhaal van Abraham vertel sonder om te begin by Genesis 11 nie -

 

1.

  • Ons lees van...God se aanvanklike goeie begin met die mens / lees ons van die Sondeval / Broedermoord / Sondvloed / en dan eindig dit met die Toring van Babel / menslike eie-ek / arrogansie kom tot val / mense wat ‘n toring wil bou tot in die hemel / afstand tussen Hemel en aarde wil uitwis / mense wat self God wil wees; en dan God se oordeel daaroor / hoe mense oor die aarde versprei word / Tyd van Hopeloosheid. Dit het letterlik donker geword vir die mens.  Dit word verder beklemtoon in Gen. 11: 30 – Sarai was onvrugbaar;  dit was letterlik ‘n doodsvonnis vir die mens;   geen toekoms nie, geen hoop vir ‘n nageslag nie – nag geword vir mens!  Onthou God nog van ons? Miskien is dit iets wat ons nou ook ervaar / waarmee ons onsself mee kan vereenselwig.
  • Nag vir ons? Is daar ‘n toekoms?  Is daar Hoop? Onsigbare virus – so groot;  so broos!  Magtige lande / stort in duie! Alles is teen ons. Onthou God ons nog?

 

2.

  • Net wanneer die duisternis ons wil oorval, dan neem hierdie verhaal ‘n wending. Natuurlik onthou God ons en Hy gee om.  Dus maak Hy ‘n nuwe begin met die mens!  Dis die kern van die O.T. Evangelie. ‘n God wat liefhet, ‘n God wat omgee - ‘n God wat in die nag werk – “Nobody gets up earlier than God.”  Wanneer ons planne op is dan het God nog nie begin nie.  Hy werk in die nag. God gee om vir mense / Sy wêreld – dus ‘n nuwe begin.  Chaostiese gemors – kan omskep in ‘n lewensmoontlikheid en dit is wat hy doen in hierdie verhaal – in Genenis 12.  Hoe doen hy dit? Hy roep mense. Hy gebruik mense. Doodgewone mense soos jy en ek.  Om ‘n nuwe begin te maak, om ‘n verskil te maak.

* Hoe roep God ‘n mens?  Hy roep vir Abraham om tot seën te wees vir die nasies.  Doodgewone mense soos ek en jy om ‘n verskil te maak.  Van die begin af was dit God se bedoeling om by die nasies uit te kom.  Sy genade en liefde is bedoel vir die nasies.  Om hierdie boodskap uit te dra, gebruik God mense. Doodgewone mense.  Hy roep vir Abraham en sê vir Abraham hy moet trek, hy moet alles los. Sy land, sy besittings, sy familie. Al sy ou sekuriteite – en wonder bo wonder doen Abraham dit.  Hy neem God op sy woord. Hy gaan waag dit met God se woord en beloftes op ‘n totaal nuwe pad.

So roep die Here ons om seën te wees vir ander. Deur hierdie moeilike tyd wil God deur ons ‘n boodskap van hoop, genade en sy liefde by die wêreld uitbring.  Soos hy vir Abraham roep, roep hy vir jou en vir my.

*Hy roep ons om dit te gaan waag met Sy woord en beloftes. Maar dan is ons eerste reaksie:  maar wat kan ek doen Here?  Watter verskil kan ek maak in hierdie stukkende wereld?

Hoe begin God wanneer Hy  die pad met ons begin loop??  Hy begin gewoonlik deur nie om vir ons goed by te gee nie, maar om ons te stroop – en dit is wat hy met Abraham doen.  Hy sê vir Abraham om te trek  en alles los. Hy moet sy ou sekuriteite agterlaat. God gee vir hom nuwe sekuriteite, nuwe beloftes, dinge waaraan hy kan vashou.  Dit is ook hoe die Here met ons werk - Alles wat die Here wil hê ons moet doen, het Hy  alreeds die gawes en die talente vir ons gegee.  Maar ongelukkig is hierdie talente en gawes dikwels begrawe onder goeie goed, dinge wat ons langs God kom neersit het. Dinge wat ons op ‘n punt bring dat ons God met een hand dien. Dikwels is dit goeie goed – ons geliefdes, wat ons verhinder om dan uiteindelik ‘n naaste te wees vir die wêreld. Om die seën vir die wereld te bring soos wat ons veronderstel is om te doen.  Daarom stroop God ons ons van ons ou sekuriteite,  Hy neem weg dat Hy soms al is wat ons het, want dan eers besef ons Hy is al wat ons nodig het.  Hy roep ons om te gaan waag met Sy woord en Sy beloftes. Abraham trek, hy het niks op papier nie;  net God se woord.  Maar hy doen dit, Hy doen en waag dit in geloof. Dis die pad wat God ons vra om te loop;  ‘n pad van val en opstaan - pad van dissipelskap waarop die Here vir ons roep, die pad waarop ons die eie-ek moet kruisig. Om sekuriteite te laat gaan. God op Sy woord te neem. Om in geloof te stap om God te vertrou.  Op hierdie pad van intimiteit leer ken ons en Abraham dat die onmoontlike vir God die maklike is. Dat God die onmoontlike kan waar maak.

 

Ons fokus dikwels op dit wat Abraham moes prysgee. Maar ons moet ook kyk na wat Abraham bykry...God gee vir hom nuwe sekurteite – nie net geestelike goed nie;  maar ook fisiese materiële goed. Hy beloof vir hom ‘n nuwe land, ‘n nageslag, ‘n seun.  Dit herinnier ons ook aan dat die Here vir ons sê -  soek allereers die koninkryk van God en al die ander goed sal vir ons bygevoeg word.

So die Here roep ons om koninkryk te begin dink en leef – en dit is alleen moontlik wanneer ons bereid is om ons koninkryk te laat gaan sodat die Here se koninkryk kan kom. Dan kan ons dit gaan waag met Sy woord en Sy beloftes om uiteindelik tot seën te wees vir die nasies – om draers van hoop te wees.

 

*  Wanneer Jesus ons roep, roep hy ons om in die wêreld te wees, maar nie van die wêreld nie. Hy roep ons om pelgrims te wees, nie setlaars nie.  Die pad wat Abraham loop, is ‘n pad van tydelikheid waar hy nie te lank op een plek moet stilstaan nie.  Ons wil graag setlaars wees en bly - raak te tuis.  Hier is dit lekker.  Bou dakke oor ons koppe en so verloor ons ons antennas na bo – dat hierdie wêreld maar eintlik tydelik is.  Dat ons op pad is;  dat ons ‘n roeping het.  Geroep om Kanaäniete te wees. Lig en sout te wees.  Draers van hoop en genade. Om soos Abraham sigbare altare op te rig  - waar ons Hom kan aanbid.  Sodat die wêreld kan sien en hoop kan kry.  Dit is wat hierdie verhaal vir my en jou wil kom sê – dit bring hoop;  nie net vir ons nie, maar vir ‘n stukkende wêreld.  Vir ‘n Here wat sê Hy wil ‘n nuwe begin maak.

 

In hierdie nuwe begin roep hy vir my en vir jou.  Nou is die tyd. Vandag. Nou. Nie ‘n ander tyd soos wat ons dikwels dink nie.  Eendag kan U my gebruik, maar die Here sê ek roep jou nou. Hier is plek. Jy is nou hier.

 

Die roepingsverhale in die Bybel is van die wonderlikste verhale – Francis Thompson skryf ‘n gedig – “Hound of Heaven” waarin hy vertel van sy eie roeping - hoe dat God hom gejaag het en waar hy probeer wegkom en uiteindelik moeg gaan lê en besef dat hy moet oorgee in die liefdevolle hande van God wat hom wil gebruik as instrument om ‘n seën te wees vir hierdie wêreld.

 

Kom ons hoor en aanvaar ons roeping vandag opnuut. Mag ons gehoorsaam wees en sê: Hier is ek Here...gebruik my om deel te wees van die nuwe begin.  Om tot seën vir nasies te wees, tot seën vir Wellington, tot seën vir Suid-Afrika en vir die wêreld.

Amen.

 

DANKOFFERS

Oorweeg asseblief om jou dankoffer elektronies te gee via elektronies bankoorplasing (EFT) of via ZAPPER

Bankbesonderhede:

ABSA | Tak: 334-510 | Rek no. 430 580 000

ZAPPER: