12 Julie 2020

WELLINGTON DIGI-DIENS | Hoe kyk ons na God (lees) | Eksodus 34:1-10

Prediker:
Teksgedeelte: Eksodus 34:1-10

KONINKRYKSTYD #6

Ds Cornis Botha 12 Julie 2020

Hoe kyk ons na God? (Dankbaarheid)  Eksodus 34:1-10 

Inleiding:
Wat sou jou antwoord wees indien iemand jou sou vra: “hoe sien jy God? Wie is Hy en wat is Sy karakter?” sal daar baie dinge in ons gedagtes kom. Die Bybel help ons ook baie om God se karakter te beskryf en ek is seker daar het so paar bekende beelde en karaktereienskappe in jou gedagte opgekom: In die Ou Testament lees ons dikwels dat God uitgebeeld word as Krygsman, Koning, Regter en Vader. Ons lees dat God ons Herder is (Ps. 23), God is die Skepper van die heelal en van ons (Genesis 1-2). In die Nuwe Testament lees ons Hy is die Lam van God (Openbaring), Verlosser, Redder.

Daar is ook baie eienskappe wat God se karakter definieer: God is Liefde, Hy is genadig, ewig en regverdig. So kan ons aangaan. Ons loop egter die gevaar om by daardie een eienskap vashaak en te vergeet van die ander. Wanneer God net liefde raak, dan vergeet ons dat Hy regverdig is. Wanneer God net ’n God is wat ons moet seën en bystaan in moeilike tye, dan vergeet ons dat Hy ook wegneem en weerhou (Job).

Hoekom is dit dan belangrik dat ons oor hierdie dinge gesels en besin? Want die manier wat ons na God kyk of hoe ons God sien, bepaal hoe ek na myself, na ander en die skepping kyk. Daarom is dit nodig dat ons dalk vandag onsself weer herinner wie God is en hoe ons na Hom kyk.

Ons gaan dit doen uit Eksodus 34, waar Moses vir die tweede keer die Wet ontvang, nadat Israel gesondig het en die Goue Kalf aanbid het. Ek gaan vra dat Ds. Lettie vir ons die skrifgedeelte lees.

Skriflesing:
Eksodus 34:1-10

God se karakter:
Wanneer ons Eksodus 34 lees, gaan Moses op na die berg nadat die verbond wat God met Israel gesluit het, pas gebreek is. Moses gaan pleit by die Here om steeds Israel se God te wees, om die verbond of ooreenkoms wat Israel gebreek het, weer te herstel. Wanneer God Homself aan Moses openbaar, hoor ons dat God homself beskryf op die volgende manier:
“Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders en kleinkinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag.”

Wanneer ons hierdie gedeelte hoor is daar twee kern gedagtes wat God van Homself verduidelik:

1. God is die genadige, liefdevolle, barmhartige lankmoedige en getroue God:

God het skaars die verbond met Israel gesluit, toe hulle die tweede gebod verbreek. En wanneer ons die Bybel lees, sien ons dat dit eintlik maar die patroon van die mensdom is: God bewys liefde en genade, maar ons stel God gedurig teleur en verbreek die ooreenkoms wat gemaak is. Gelukkig is God liefdevol, barmhartig, genadig en lankmoedig – God is geduldig met sy kinders. Hy vergewe ons maar gereeld, soos Hy vir Israel en sy volgelinge vantevore vergewe het.

Ons sien hierdie liefde en genade in aksie, wanneer Jesus aarde toe kom, mens word en vir die wêreld aan die kruis sterf – Jesus kom wys ons wat ware liefde beteken – om die sondes van die wêreld op Hom te neem.

Met hierdie in gedagte, kan ons egter nie verwag dat ons in hierdie liefde en genade kan doen wat ons wil nie. Dit bring ons by die tweede eienskap wat God van Homself noem:

2. God reken sonde toe tot in die derde en vierde geslag:

God hou ons ook verantwoordelik wanneer ons die ooreenkoms verbreek, wanneer ons dink dat ons steeds kan doen wat ons wil. In die wêreld waarin ons bly, is dit nie lekker om te hoor dat jy verkeerd is nie; dis nie lekker om te hoor jy is sondig of skuldig aan iets nie. Maar dit is deel van God se karakter, deel van Sy selfopenbaring: wanneer ons glo en bely in die liefde, genade, barmhartigheid en lankmoedigheid van God, vra dit van ons gehoorsaamheid, dankbaarheid – om te lewe binne die riglyne van die evangelie en te loop in die voetspore van Jesus.

God sê juis hier dat hy in sy liefde vergewe, maar in sy regverdigheid mense verantwoordelik hou vir hulle doen en late.

Die karakter van God = die karakter van sy kinders:

God is lankmoedig, maar ook regverdig. Dit is hierdie spanning wat regdeur Bybel voorkom en self vandag nog in die wêreld funksioneer. Wanneer ons besef dat ons vrygemaak word van die wêreld, dan behoort dit ons tot ’n lewe van dankbaarheid te roep – soos wat God vir die Israeliete roep wanneer Hy vir hulle verlos.

Vandag word ons herinner dat ons as God se kinders, geroep word om anders te leef in hierdie wêreld. Ons word geroep om uit te staan, om dieselfde karakter as God te beliggaam wat in Jesus Christus sy volle betekenis kom kry het. In ’n wêreld waar mense hulle eie selfsugtige belange bevorder, word ons geroep om die belange van die koninkryk van God te bevorder.

Dit is wanneer ons die karakter van God begryp en in die voetspore van Jesus loop, wat ons anders na mekaar en die wêreld begin kyk: dan is dit nie meer ek en my eie belange wat saak maak nie, maar dit wat God wil; dan sien ek nie kleur of taal of klas of seksuele oriëntasie raak nie, ek sien ’n skepsel van God raak. Ek sien die wêreld en mense deur die oë van God.

Slot:

Ek sluit af met dieselfde vraag as waarmee ek begin het vanoggend: hoe kyk jy na God? Wie is Hy en wat is sy karakter? Die manier wat God na my kyk, vra dat ek in dankbaarheid reageer: Hy is liefdevol, genadig, barmhartig en lankmoedig – vir my en vir jou. Hy is ook regverdig – God haat onreg en eiebelang, selfsug en liefdeloosheid. God roep vandag opnuut vir my en vir jou, vriende, om te ontdek Wie Hy is – mag ons opnuut vanoggend na die Here kyk en Hom sien vir Wie hy is.

AMEN

 

DANKOFFERS

Oorweeg asseblief om jou dankoffer elektronies te gee via elektronies bankoorplasing (EFT) of via ZAPPER

Bankbesonderhede:

ABSA | Tak: 334-510 | Rek no. 430 580 000

ZAPPER:

 

Go to Top