21 Junie 2020

WELLINGTON DIGI-DIENS | Die Gees is in ons (lees) | Johannes 14: 1-3; 16-17; 26 en 16:7

Prediker:
Teksgedeelte: Johannes 14: 1-3; 16-17; 26 en 16:7

KONINKRYKSTYD #3

Heilige Gees.

DIE GEES IS IN ONS 

(Ds. NJ van As) - 21 Junie 2020

Skriflesing:  Joh. 14:1-3;  16-17, 26 & 16:7

 

“WHO MOVED MY CHEESE” – SPENCER JOHNSON

Ek het die afgelope tyd weer die boek van Spencer Johnson gelees. “Who moved my cheese?”

Die verhaal gaan oor twee muise en twee klein mensies wat in ’n labarint gebly het.  Hulle het op een plek kaas ontdek en daar gerieflik gebly, want daar was genoeg kaas om lekker van te leef, maar toe begin die kaas minder word en skielik een oggend toe was daar net ’n klein bietjie kaas oor.  Die muise het verdwyn, seker na ander kaas gaan soek, maar die mensies het agtergebly en gehoop die kaas gaan weer kom.  Die oorblywende stukkies kaas het al ouer en slegter geword.

Die een mensie het later begin rondsoek na ander kaas en die ander een saam genooi, maar die ander mensie was kwaad en vies dat sy kaas gesteel is.  Hy het verontreg gevoel en net daar gebly. Die een mensie, dapper Pieter, het toe elke dag verder gaan soek na kaas, al het die gevaar bestaan dat hy kon verdwaal.  Toe hy nie meer bang was om te verdwaal nie, het hy die ekspedisie begin geniet en in sy soeke het hy ’n nuwe plek met kaas ontdek.  Die kaas was nog vars en baie lekkerder as die ou kaas.

In die tyd waarin ons nou leef, ervaar ons ook dat ons kaas geskuif word en word ons uitgedaag om nuwe kaas te gaan soek.  Ons gaan nou lees hoe die dissipels se kaas geskuif is.

Skriflesing

Die dissipels se kaas was nogal geskuif toe hulle hoor dat Jesus weggaan.  Vir ongeveer 3 jaar het hulle lewe net om Jesus gedraai.  Hy was hul Vriend en Leermeester - hulle sekuriteit.  Die een wat hulle vertrou.  Nou gaan Hy weg.  Hulle weet nie eers waarheen nie.  Hulle word nou so ’n bietjie uit hul gemaksone geruk.

Jesus beloof vir hulle nuwe kaas. In Joh. 16:7 sê Hy dat dit tot hul voordeel is dat Hy weggaan, want as Hy nie weggaan nie, kan die HG nie kom nie.  Bruce Wilkenson het by Moedergemeente gepreek oor die Gees en hy het die teks sό beklemtoon dat dit my tot vandag toe nog bybly.  Dis tot jul voordeel dat ek weggaan.

Die VOORDEEL van die kase wat geskuif word – van Jesus wat hemel toe gaan en die HG wat aarde toe kom is - Jesus is Immanuel – God by ons, maar die HG is – God in ons (14:17) by ons en met ons.

Paulus sê weet julle dan nie dat die HG in julle woon nie.  Jou liggaam is ’n tempel van die HG. God bly nie meer in ’n tempel of ’n kerkgebou nie, maar Hy woon in ons as gelowiges.  Al is die kerkgeboue se deure toe, die kerk is nog oop, want ons is die kerk.  Die Gees is in ons en waar ons gaan, is die kerk. Wat ons doen, is die kerk en daarom moet ons God verheerlik met ons liggame.  Ons behoort nie meer aan onsself nie, maar aan God wat ons gekoop het met die bloed van sy Seun en sy Gees wat gestuur is om in ons te kom woon.

Nog ’n voordeel is dat die Gees vir EWIG by ons is. Hy gaan nie weer weg nie. Jesus was in ’n menslike liggaam en kon net op een plek op ’n slag wees, maar die Gees is oral – alomteenwoordig net soos God alomteenwoordig is.

Die Gees wat vir ewig in ons woon is ons Trooster as ons alleen en onseker voel.  Hy gee vir ons kalmte en vrede.  Die Gees is ons Voorspraak en Advokaat wat vir ons intree by God en ook ons gebede in Godstaal vertolk wanneer ons nie die regte woorde het om te bid nie.  Hy help ons as ons in die nood is. Hy is ons Raadgewer as ons raad en leiding nodig het.  Die Gees leer ons, onderrig ons soos ’n onderwyser en Hy herinner ons aan wat Jesus gesê het.  Dink maar aan die saligsprekinge. Jesus het mos vir sy dissipels vertel wat ’n mens werklik gelukkig maak. Die Gees, Parakletos in Grieks, lei ons in die waarheid, want Hy is die Gees van die waarheid net soos Jesus die Weg en die Waarheid en die Lewe is.

Wat beteken dit vandag vir ons dat die Gees in ons is in hierdie onseker-tyd waar baie mense verliese het.  Waar ons kaas geskuif het, waar ons dit wat vir ons baie beteken, verloor het.

Kinders mis hul maats en die sport…die matrieks mis al die geleenthede soos ’n laaste interskole en vele meer….die ou-mense is alleen en mis hul kinders en kleinkinders…besighede lei verliese…ander se salarisse en verlof word gesny.

Mense leef met vrees en bekommernis oor die toekoms. Hoe gaan ons voort na Covid 19. Alles verander tot ook by die kerk. Ons moet dinge anders aanpak en ons weet nie altyd hoe nie. Ons moet nou deur die tonnels soek na die nuwe kaas.

Het jy al beleef dat God naby jou is, dat Hy jou help as jy in die nood is?  Het jy al ervaar dat Hy vir jou raad gee – asof iets net ‘click’ asof jy nuwe insig kry – jy net skielik besef dis wat ek moet doen – dat goed net skielik in plek val. Dit is God, dis die Gees wat jou lei en help.  Veral as jy soekend is vra en soek en raad soek in die Bybel en as jy toelaat dat die Gees jou beïnvloed.

Indien jy bereid is dat die Gees jou lewe beheer. Paulus sê mos in Gal 5:16: ”Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie.” Het jy al ’n stuk onvrede gehad oor planne wat jy beraam – dan is dit die Gees wat sê ‘nee’ dis nie reg nie. Het jou gewete jou al gepla oor hoe jy mense behandel of hoe jy oor mense praat.  Dis die Gees wat jou aanspreek, wat help en jou in die waarheid wil lei.

Het jy al gesit met moeilike besluite.  Jy wil die een doen, maar jy weet jy moet die ander doen en jy kry nie vrede nie totdat jy vir die een sê ‘nee’ en ‘ja’ vir wat jy weet jy moet -  en dan kom die vrede wat alle verstand te bowe gaan oor jou.  Die wonderlikste ervaring op aarde.  Die vrede wat die Gees gee as bevestiging dat jy die regte ding doen. ’n Mens kan net vrede ervaar wanneer jy binne die wil van God is.

Soos God deur Jesus by die dissipels op die boot in die storm op die see was, so is die God nou deur sy Gees in en by ons.  Hier in die onseker of moeilike tye, wanneer ons kaas geskuif word en alles nie meer is soos dit was nie, is God nog steeds deur sy Gees ons Trooster, ons Raadgewer.  Hy help en lei ons in dit om die situasie te hanteer en na nuwe kaas te gaan soek. Ons is nie alleen nie.

 

OPSOMMING: Neil

Soos God by mense was toe Jesus op aarde was, is die Heilige Gees nou by en in ons. Die Gees is die Trooster, Raadgewer en Helper. Hy lei ons in die waarheid deur ons te leer, te onderrig en te herinner aan wat Jesus gesê het toe Hy op aarde was.

Omdat die Gees by en in ons is, kan ons die onseker tye hanteer wanneer ons kaas geskuif word en ons nuwe kaas moet gaan soek.

 

DANKOFFERS

Oorweeg asseblief om jou dankoffer elektronies te gee via elektronies bankoorplasing (EFT) of via ZAPPER

Bankbesonderhede:

ABSA | Tak: 334-510 | Rek no. 430 580 000

ZAPPER:

 

Go to Top