24 Mei 2020

PINKSTER DIGI-DIENS #1 | Habakuk: van HOEKOM na AL SOU en NOGTANS (lees) | Habakuk 3: 16 – 19

Prediker:
Teksgedeelte: Habakuk 3: 16 - 19

Wellington DIGI-diens         24 Mei 2020
Habakuk: Van “hoe lank nog, Here” na “al sou...en nogtans”

Inleiding:

Vriende, in die tye wat ons leef het ons as mense ongelooflike maniere gekry om met mekaar te kommunikeer en te connect. Selfs te midde van die inperking wat ons tans ervaar, het ons hulpmiddele soos selfone, Whatsapp en sosiale media, wat ons met redelike effektiwiteit ons verhoudings kan bou en in standhou. Ons het ongelooflike hulpmiddele om met die Here te kommunikeer en boodskappe te ontvang, soos wat ons vanoggend saam aanbid en na die woord van die Here kan luister.

Met Pinkster wat begin, gaan ons saam deur die binnekamer gesprek van die profeet Habakuk, lees en bid. Daarom gaan ons vanoggend vlugtig deur die boek se 56 kort verse blaai, om ’n idee te kry wat vir ons voorlê. Maar nog meer, om ’n inleiding te gee van wat met Habakuk gebeur terwyl hy in gesprek is met God. Ons fokusteks vir vandag is ook die bekendste deel van die boek. Ek gaan vra dat ....... vir ons die skrifgedeelte lees.

Lees Habakuk 3:16-19

Habakuk se eerste klag:

Habakuk se woorde is bekend, want ons het dit baie keer al in die kerk as liedere gesing. Habakuk se liedere bring hoop en bemoediging, maar hy het nie daar begin nie. Habakuk wend homself tot die Here in sy binnekamer, omdat hy sien hoe die volk die wet minag, onreg bo geregtigheid handhaaf en lewe vir hulle eie voordeel. Habakuk se eerste klag by die Here is: Hoe lank nog?! Waarom, Here?! Wanneer gaan U ingryp?! God se antwoord is egter een wat Habakuk nie verwag het om te hoor nie: Ek gaan die Galdeërs laat kom.

Habakuk kla oor die geweld wat leef en God se antwoord is dat daar nog erger op pad is.

Habakuk se tweede klag:

Wanneer Habakuk ’n tweede keer tot God kla, het die Chaldeërs al opgedaag en getrou aan hulle reputasie geplunder en verrinneweer. Maar Habakuk se worsteling is nie die Chaldeers wat opgedaag het nie, maar dat dit God is wat hulle gestuur het. Dis asof Habakuk vervreemd geraak het van die Here: hy vra in hoofstuk 2, vers 12 en 13: “Here, U is tog heilig, U is tog rein, U is tog Almagtig – waarom doen U dan niks aan hierdie trouelose mense nie?”

Habakuk se tweede klag verdiep. Maar inplaas om vir God te verwerp of verwyt, gaan hy na sy gebedsplek om te luister, om te wag dat God antwoord. En God antwoord, nie net vir hom nie, maar vir Israel. Habakuk word beveel om neer te skryf in groot leesbare letters:
Wie nie reg gesind is nie, sal sy verdiende loon kry, maar wie reg doen, sal lewe omdat hy getrou bly.” Hab. 2:4

God sê dat mense dalk die wet vertrap het, maar dat Hy steeds in beheer is en dit sal handhaaf – dié wat getrou is daaraan sal bly leef, maar dié wat afvallig geword het, sal hul verdiende loon kry.

God kom en vra vir Habakuk, midde die vernietiging en onderdrukking: vertrou jy my? Glo jy dat ek steeds in beheer is, steeds regeer? Vertrou jy my, Habakuk? God sê dat Hy nie blind, doof of afwesig is nie, Hy sien alles raak, Sy oë is op ons en vir Hom is reg steeds reg en verkeerd steeds verkeerd.

Ek het gehoor en gesien: U is God!

In hoofstuk 3 vind ons dat Habakuk se klaaglied verander: sy eerbied vir God is herstel:
“Here, ek het gehoor wat van U vertel is en ek is vervul met ontsag vir wat U gedoen het. Doen dit tog ook in ons tyd, laat U dade ook in ons tyd ervaar word, ontferm U selfs in u toorn” Habakuk 3:1-2.

Dis hier waar die profeet meegesleur word in visioene en sien hy Wie God werklik is, soveel so dat Habakuk tot stilte geruk word: hy het gesidder, sy lippe het gebewe, sy liggaam en bene het lam geword.

Net soos ons maar selde weet met Wie ons te doen het en oor Wie ons so maklik praat, so besef Habakuk deur die loop van sy worsteling en gebed met die Here – totdat God hom tot stilstand dwing en Habakuk verklaar:

Ek sal geduldig wag vir die tyd wat God besluit om in te gryp...daarom:

Al sou ... nogtans:

Vriende, ons sien hier ’n mens wat met sy diepste worstelinge oor onreg en seer na God kom. Habakuk hou nie van God se antwoorde nie, maar in die worstel ontmoet hy vir God opnuut en in sy binnekamer, midde onsekerheid en onreg, vind hy rus en troos by die Here.

En dinge het nie hier al begin beter gaan nie. Net soos ons nie weet hoe die volgende paar maande gaan lyk nie, so het Habakuk ook nie geweet nie. Maar in sy worsteling met God het hy vrede en troos gevind – kan hy, nadat God hom tot stilstand gebring het, met ’n vaste vertroue en hoop sing:

“Al sou die vyeboom nie bot nie, die wingerde leeg wees, die olyf oes misluk, die ekonomie in duie stort, ek my werk verloor of wat ook al oor ons pad kom...nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God my redder. Hy maak my voete sterk, Hy is my vaste vesting, onwankelbaar – in Hom is my hoop en vertroue.

Slot:

Vriende, ek wil julle uitnooi om hierdie Pinkster die pad na Habakuk se binnekamer te stap, om daar saam met Hom te wag op die antwoord van die Here. Hy is ons God, Hy is lief vir ons, Hy gee ons Sy vrede en genade en troos en Hy is by ons in hierdie tyd waar dit dalk voel asof die donker op ons neersak.

Mag ons belydenis vandag, maar ook in die weke wat kom, dieselfde een wees as wat Habakuk verklaar: al sou wat ook al gebeur, nogtans sal ek in die Here jubel.

AMEN

DANKOFFERS

Oorweeg asseblief om jou dankoffer elektronies te gee via elektronies bankoorplasing (EFT) of via ZAPPER

Bankbesonderhede:

ABSA | Tak: 334-510 | Rek no. 430 580 000

ZAPPER:

Go to Top