6 September 2020

40 DAE DIGI-DIENS | Die Bybel as Anker (lees) | Hebreërs 6:17-20

Prediker:
Reeks:
Teksgedeelte: Hebreërs 6:17-20

Inleiding

Vissermanne is geneig om baie optimisties oor die lewe te wees. ‘n Vriend vra eenmaal vir sy buurman wat baie graag visvang hoe dit gaan met die visvang? Beter antwoord die visserman...Hy brei toe uit: verlede week het ek in 4 ure se tyd niks gevang nie en vandag het ek dieselfde resultaat in 3 ure behaal...

David Landes die ekonomiese geskiedkundige het geskryf: ‘Hierdie wêreld behoort aan die optimiste, nie omdat hulle altyd reg is nie, maar omdat hulle positief is. Selfs as hulle verkeerd is, is hulle positief, en dit is die pad na prestasie, regstelling, verbetering en sukses. Ingeligte, oop-oog optimisme lewer resultate; pessimisme bied slegs die leë troos dat jy somtyds reg is.’

Daar is seker niks verkeerd met optimisme nie, en ek sou myself as ‘n aards optimis beskou. Ons lewe in ‘n tyd waar baie mense optimisties probeer wees maar soos die jaar 2020 ons geleer het, optimisme raak soms op! Die Hebreër boek help ons egter om te besef dat daar ‘n groot verskil is tussen optimisme en Bybelse hoop. Bybelse hoop word geanker in Jesus Christus, die weg, die waarheid en die lewe.

Die skrywer van Hebreërs het geskryf vir ‘n groep mense wat uitdagings en vervolgings in die gesig gestaar het oor hulle Christelike geloof. Sommiges wou hulle geloof in Christus opgee en terugkeer na Judaïsme. Die skrywer probeer hulle motiveer om geanker te bly in hulle geloof in Jesus Christus. Bybelse hoop is gebou op God se beloftes en geanker in sy woord.

LEES DIE TEKS: Hebreërs 6:17-20

Wag en geduld is niemand se vriend nie

Daar is vir my min dinge so frustrerend soos om te wag in ‘n ry. Ongeag of dit in die verkeer, in ‘n bank, in Binnelandse sake of Checkers se ry is waar jy jou hande moet saniteer. Dan is daar ook in die ry die tannie wie se sak tamaties nie ‘n kode op het nie of die oom wie se kaart nie die eerste keer werk nie.

Wat nodig is, is geduld, maar geduld is nie ‘n waarde wat ons samelewing koester nie. Dis ‘n cliché om te sê dat ons in ‘n wêreld leef wat kitsoplossings vir als bied – dis moontlik om kitskos op jou foon te bestel en binne 15 minute is dit by jou huis, die kitsbank en digitale betalings opsies maak alle betalings vinniger, aanlyn inkopies maak dat Pick ʼn Pay se aflewerings voertuig binne ‘n uur by jou huis stop en die wêreld van kits verhoudings het gefloreer in die jaar waar mense mekaar minder fisies kan sien.

Op ‘n manier is dit die fokus van die Hebreër brief. Die lewe het te gemaklik geword vir die volgelinge van Jesus vir wie die skrywer van Hebreërs toespreek. In die tyd het hulle die uitdagings van Romeinse vervolging begin voel, die Jode het hulle uitgestoot omdat die Joodse gemeenskap hulle aanbidding van Jesus Christus as valse leer beskou het.

Dis in die tyd wat die volgelinge van Jesus vir wie die Hebreër brief geskryf was begin soek het vir kits oplossings. Hulle het  gedink as hulle net minder radikaal is, sal hulle dalk kan gemakliker lewe.

Die skrywer van Hebreërs is bekommerd want hy dink en voel die volgelinge van Jesus Christus het hulle ankers gelig. Hulle het begin weg en losdryf van Jesus Christus. Die skrywer is bang dat hulle die kosbare band met Christus gaan verloor.

1. Politiek, ekonomie en klimaat

Indien ons vandag die woorde politiek, ekonomie en klimaat hoor maak elkeen van ons konnotasies in ons kop. Hierdie konnotasies is nie juis positief nie – (Korrupsie, plaasmoorde, negatiewe groei, staat skuld, klimaat verandering, droogte). Die Joernalis Max Roser skryf teen die einde van 2016 dat net 10% van mense in Swede dink dinge raak beter – Amerika net 6%, Duitsland net 4%. Hierdie is eerste wêreld lande in ons opinie, dink ons weet ons gaan nie noodwendig beter doen in SA nie. Min mense glo die wêreld gaan beter raak in die jare wat kom.

Die ander kant van die argument is as ons kyk na, opvoeding en letter vaardigheid, babas wat sterf by geboorte, vryheid van spraak en beweging, gesondheidsorg en armoede verligting dan is die wêreld in 2020 in ‘n beter posisie as 10, 50 en 100 jaar gelede.

Een van die groot sonde bokke wat veroorsaak dat ons ‘n negatiewe beeld van die wêreld het is die media. Die media hou nie daarvan om vir ons te vertel hoe die wêreld verander nie, hulle hou daarvan om te vertel wat verkeerd is. Een van die redes is dat die media fokus op enkele gebeure soos die Beirut bom, soos die aanval op ‘n 81 jarige oom op sy plaas, soos die kaping waar hulle ‘n vrou 1km agter ‘n motor aan sleep. Tragiese en hartseer verhale wat nie goed gepraat kan word nie.

Positiewe en hoopvolle ontwikkelinge aan die ander hand gebeur baie keer stadig, oor jare, oor tyd en hulle haal nooit die nuus nie. Verhale soos boere wat al vir oor die 20 weke elke week koejawels, kool, groente skenk vir die ACVV kospakkie projek haal nie die nuus nie, maar die regerings amptenare wat kospakkies steel doen.

Die vraag wat ek vir ‘n oomblik by elkeen van ons wil laat is: By watter positiewe en hoopvolle gebeure wat oor ‘n langer tyd aankom laat die Here vir elkeen van ons toe om van deel te wees? (Dalk ‘n verhouding met ‘n kollega wat eens gesukkel het, dalk ‘n beweging wat hoop bring in die dorp, dalk ‘n verhouding met ‘n familielid wat herstel het?)

Binne in die negatiewe wêreld beskouing wat die media en sosiale media vir ons skep smag elkeen van ons daarna om die groter prentjie te begryp. Smag ons dat die Here Jesus ons moet help om die koninkryk prentjie te begryp. Die Hebreër skrywer los vir ons twee beelde....

2. Anker van hoop – Oseaan van Vrees

19) Hierdie hoop besit ons as ‘n veilige en onbeweeglike lewensanker.

Die beeld van anker het ‘n sterk konnotasie met die see. In die tyd toe Jesus gelewe het en later toe die Hebreër boek geskryf was, was die see ‘n simbool van chaos. Die skepe wat hulle gehad het was nie groot visvang skepe met baie perdekrag of die groot MSC vakansie skepe wat ons vandag ken nie. Die skepe waarmee hulle op die see gevaar het was baie meer uitgelewe aan die elemente van die see. Daarom was daar ‘n groot vrees vir storms, winde en groot golwe. Dis dan oor hierdie rede dat Bybelse skrywers die see gebruik as middel om gevare en vrese uit te beeld. Die mense van die Bybelse tyd het die oseaan gevrees.

Wanneer ons heeltyd negatiewe nuus hoor gebeur dit sonder dat ons besef dat ons perspektief verloor oor die Here se koninkryk. Ons almal weet hoe maklik dit gebeur dat ons kan ronddryf en wegdryf van die Here. Die Hebreër brief probeer gelowiges wat weggedryf het en negatief geraak het te anker en bemoedig. Die beeld van anker word gebruik omdat ‘n anker nie aan homself vasgemaak kan word nie. As ‘n anker beteken niks as dit in die boot lê of nie die bodem kan bereik nie, want dan neem die strome en winde die skeep waar dit wil. Die anker moet verbind en gegrond wees om vastheid te skep.

Die Hebreër brief herinner ons dat ons anker in die storms wat ons ervaar nie iets is nie, maar iemand. Ons anker is Jesus Christus!

3. Priester – Anker van hoop wat jou nie los nie

20) Daar het Jesus, ons Voorloper, ter wille van ons ingegaan, en Hy is vir ewig Hoëpriester.

Ons Anker, Jesus Christus is in verhouding met ons. Hy is die Hoëpriester waarvan Hebreërs praat wat aan die regterhand van God sit en vir ewig vir ons intree. Ons Anker is agter die voorhangsel, wat eintlik net beteken dat Jesus in die allerheiligste teenwoordigheid van God is. Ons Anker is ons Hoëpriester wat met God praat oor mense en met gewone mense soos ons praat oor God deur sy Gees.

Jesus Christus is die Anker en Brugbouer wat ons in die stormagtige see van die lewe verbind aan die ewige God, die Skepper van hemel en aarde. Jesus anker ons nie net in die aardse lewe nie, maar hy anker ook ons verhouding met God.

Hoe kan ons so seker weet dat Jesus die anker is? Die Hebreër brief herinner ons dat ons konkrete bewyse het. Ons het die Woord van die Here, die Bybel wat ons anker in God se getroue getuienis oor die pad wat Hy met mense oor eeue geloop het. Ons het ook die getuienis van die lewe van Jesus Christus ontvang, wat vele en been op hierdie aarde geleef het en vir ons die pad van die lewe kom wys het.

Slot

Nie een van ons kan seker wees wat vanoggend, vanmiddag of more met ons gebeur nie. Wat ons wel oor seker kan wees is dt ons geanker is in die Here Jesus Christus en in Sy Woord. Maak nie saak hoe hoog of laag die storm is nie, die Here bly ons anker wat ons nie sal los as die lewe uitdagend raak nie.

Dit is nie optimisme nie, dit is Bybelse hoop.
Amen.    

 

DANKOFFERS

Oorweeg asseblief om jou dankoffer elektronies te gee via elektronies bankoorplasing (EFT) of via ZAPPER

Bankbesonderhede:

ABSA | Tak: 334-510 | Rek no. 430 580 000

ZAPPER:

           

Go to Top