GESKIEDENIS

WIE IS ONS2018-02-14T13:17:57+00:00

Waar alles begin het

Die kerkgebou van die Nederduitse Gereformeerde Gemeente Wellington is ‘n nasionale gedenkwaardigheid en word allerweë as een van die mooistes in die Boland beskou. ‘n Besondere ryk geskiedenis is daaromheen verweef. Histories gesien word die groei van die gemeente nóú verbind met die naam van die groot kerklike figuur, dr. Andrew Murray.

Gelyktydige ontstaan van die dorp en gemeente

  • Na die vestiging van die eerste Franse Hugenote as boere in die Wamakersvallei groei die getalle inwoners geleidelik sodat ‘n eie gemeenskapslewe mettertyd ont-wikkel. ‘n Rapsie meer as 100 jaar verloop voordat die eerste pogings teen 1800 aangewend word om ‘n eie gemeentesentrum te bekom.
  • Gedurende die eerste jare van die negentiende eeu is die inwoners kerklik deel van die Nederduitse Gerefor-meerde Gemeente Paarl. Om kerkdienste by te woon vra groot opofferings van die inwoners, veral omdat die reisafstand te groot is en te veel mense die Bergrivier met ‘n pont moet oorsteek. Die pont word ook dikwels gedurende die wintermaande beskadig.
  • In 1837 breek die pont weer eens en wys ‘n aantal inwoners van Groenberg, Wamakersvallei en Daljosafat ‘n kommissie onder voorsitterskap van dr. John Addey aan om die saak van afstigting te ondersoek. ‘n Gedeelte van die plaas Champagne van Francois Marais, geleë naby die samevloeiïng van die Spruit- en Krommerivier, word vir 63 000 gulden aangekoop en dele daarvan in erwe opgedeel wat verkoop word om die aankoopsom te finansier. Die stene vir die kerkgebou word gevorm op die terrein wat later as Victoria Park bekend sou staan.
  • Die Paarlse kerkraad, onder voorsitterskap van ds. G.W.A. van der Lingen, is egter nie vir afstigting te vinde nie. Die Addey-kommissie wend hulle derhalwe tot die goewerneur, sir George Napier, en gaan intussen voort met die oprigting van ‘n kerkgebou. Na vele onder-handelinge en teenkanting van ds. Van der Lingen word toestemming deur die Ring van Kaapstad en die goewerneur verleen en kan die eerste leraar, ds. A.F. du Toit, ‘n seun van die gemeente, en die kerkraad op 26 Julie 1840 bevestig word. Die bevestiging word waarge-neem deur ds. Philip Faure van Wynberg, aangesien ds. Van der Lingen “wegens ontoepaslijkheid” die uitnodi-ging van die hand wys.
  • Die kommissie laat die naam van die gemeente en die dorp aan die goewerneur oor aangesien laasgenoem-de reeds sy naam aan die nuwe dorp Napier toegewys het. Hy stel egter voor: “Call it Wellington. It is a disgrace that in this Colony no town bears that name.” Op 26 Maart 1840 word die naam per proklamasie aan die nuutgestigte dorp gegee

Dr. John Addey » dryfkrag agter die afstigting

  • Dr. John Addey, ‘n Engelssprekende geneesheer, is op 9 Mei 1793 in Cork, Ierland gebore. In 1821 kom hy na Kaapstad waar hy op 5 Augustus met die kinderlose weduwee Maria Anna Rossouw trou
  • In 1831 vestig hy hom in die Wamakersvallei en op 13 Maart tree hy tot die N.G. Kerk toe. Hy word een van die groot dryfkragte agter die afstigting van die gemeente en die bou van die kerk. Hy word ook op die eerste kerkraad as diaken en scriba verkies.
  • Die groot huis wat dr. Addey deur Stephanus Mal-herbe (wat ook die kerk gebou het) in 1840 laat bou, staan later as White House bekend en word in 1869 deur die Anabaptiste gekoop, wat dit in 1872 aan ds. Murray ver-koop vir gebruik deur die Hugenote Seminarie.
  • Addey se eerste eggenote sterf in 1846 en toe trou hy met haar broerskind, Anna Maria Rossouw, weduwee van Johan Frederick Pentz. Haar dogter, Elizabeth Maria Pentz, trou in 1848 met Ernst Gideon Malherbe na wie Malherbestraat vernoem is. John Addey is benewens geneesheer, ook voorsitter van die eerste dorpsraad en magistraat.

Die Kerkgebou

‘n Jong Stephanus Malherbe (1816-1872) word in 1838 deur die afstigtingskommissie as boumeester in diens geneem om die kerkgebou op te rig. Die oorspronklike kerkgebou is in fases vergroot om by die groeiende be-hoeftes van die gemeente aan te pas. Die proses verloop soos volg:

  • Beplan deur A. Grové
  • Bouwerk hoofsaaklik deur gemeentelede
  • Eerste fondamentsteen gelê op Woensdag, 27 Junie 1838
  • Eerste fase, slegs die skip met een lang binneruimte in ‘n eenvoudige neo-klassieke boustyl, voltooi teen Maart 1839
  • Konsistorie aangebou 1842, vergoot 1928 en 1969 (moederskamer)
  • Syvleuels 1861 tydens groot herlewing
  • Galerye en trappe 1874; galerye vergoot 1896
  • Toring 1895
  • Dak met 8 vt. (±2½ meter) verhoog 1928
  • Die ringmuur word in 1841 begin maar eers in 1862 voltooi.

Standbeeld van Dr Andrew Murray

Die kerkraad besluit op 10 April 1917 om ‘n standbeeld vir dr. Murray op te rig, maar verskeie lidmate opper be-swaar teen so ‘n beeld. Die beeld word eers op 31 Augustus 1923 ingewy met dr. Murray in ‘n sittende posisie, waarskynlik omdat hy gedurende die laaste jare van sy bediening, vanweë ‘n vroeëre rugbesering, tydens sy preke gesit het. Die sterfdatum op die standbeeld en sy grafsteen verskil met een dag: 17/18 Januarie 1917.

Die Toring

  • Toe die kerkgebou in 1890 vyftig jaar oud word, oordeel sommige lidmate dat ‘n toring aangebou moet word. Die voorvegter vir hierdie saak is die bekende wamaker, Albertus J. Malan. Groot verdeeldheid ont-staan egter hieroor en op ‘n kerkraadsvergadering behaal die toringvoorstanders die minderheid stemme.
  • Albertus Malan gee egter nie moed op nie, maak propaganda, kollekteer en reël selfs toringbasaars. Uit-eindelik word die bou van die toring goedgekeur en kan die bouer, mnr. Joubert van Kuilsrivier, met sy mes-selaar, Noag, aan die werk spring. Die toring word van kleistene gebou en toon dit oor die jare daarna geen krake nie – selfs die aardbewing van 1969 rig geen skade aan nie.
  • Die klok wat bo in die toring vasgemessel is, is egter so swaar dat die vrees ontstaan het dat die toring ineen kan stort met die heen en weer bewegings van die klok. Gevolglik word die klok met toue vasgemaak en het dit nooit as kerkklok gelui nie Die slae wat die ure aftel, word wel veroorsaak deur ‘n hamer wat teen die klok slaan.

Die Preekstoel

  • In Februarie 1839 besluit die Paarlse kerkraad om hulle ou preekstoel aan die kommissie af te staan, maar op die voorwaarde dat dit nie gesien moet word as ‘n verbintenis tot ‘n afsonderlike gemeentevorming in die Wamakersvallei nie.
  • Omdat hierdie preekstoel vir twee predikante te klein is, word op 18 Augustus 1895 daarvan afskeid geneem en die nuwe preekstoel in gebruik geneem. Die ou preek-stoel word aan die N.G. Sendinggemeente in die Bovlei oorhandig.

Die Orrel

  • Van die eerste orrel wat in die kerkgebou gebruik is, is ongelukkig niks bekend nie. Die orrelis gedurende die 1890’s, Dirk de Villiers, is egter ontevrede met die orrel sodat die kerkraad in 1895 ‘n nuwe orrel deur Peter Conacher van Huddersfield, Engeland aankoop. Dié orrel was nog van ‘n blaasbalk-aksie met ‘n handhefboom voorsien.
  • In 1927/1928 word drastiese veranderinge aange-bring toe dit ongeveer 1 meter vorentoe verskuif word, ‘n nuwe speeltafel op die voorpunt van die galery aange-bring en die blaas-aksie ge-elektrifiseer word.
  • In 1997 word die registers bykans verdubbel en die pneumatiese aksie deur ‘n ten volle elektriese aksie ver-vang.

Sitplek-Protokol

Een van die lastigste take waarmee die kerkraad in die vroeë jare te doen kry, is die toekenning van sitplekke. Die algemene gebruik is dat sitplekke verhuur word maar die meeste lidmate sit op hulle eie stoele wat pal daar bly staan. Sitplekke word deur die “Commissie van Zit-plaatsen” volgens ouderdom van die hoof van die huis-houding toegeken: van voor af, wat dan ook die duurste sitplekke is.

Kollektesakkies » ‘n seldsame tradisie

Die N.G. Gemeente Wellington is sover bekend die enigste N.G. gemeente waar kollektestokke nog gebruik word om die kollektes tydens eredienste in te samel. Die diakens kollekteer hiermee heelwat vinniger as met die algemeen gebruiklike kollektebordjies.

Dr. Andrew Murray » ‘n wêreldbekende geestelike leier

  • Andrew Murray word op 9 Mei 1828 gebore as die tweede kind van ds. en mev. Andrew Muray, sr., een van die Skotse predikante wat gedurende die 1820’s na Suid-Afrika kom om die dringende tekort aan predikante hier aan te vul.
  • Ds. Murray, sr., wy sy hele bedienigstyd aan die Graaff-Reinetse gemeente. Andrew Murray, jr., word saam met sy broer John na Aberdeen in Skotland gestuur, waarna hulle hulle verdere teologiese opleiding aan die akademie in Utrecht, Holland, ondergaan.
  • Terug in Suid-Afrika arbei Andrew, jr., eers in Bloemfontein (1949), daarna in Worcester (1860) en Kaapstad (1864) voor hy in 1871 in Wellington bevestig word. Die res van sy bedieningstydperk wy hy aan die gemeente Wellington. Hy ontvang sy demissie op 20 Februarie 1906.
  • Op internasionale gebied is hy ‘n erkende en hoogs gerespekteerde godsdienstige leier. Talle van sy sowat 250 publikasies word in verskeie Westerse en ook Oosterse tale vertaal. Tot vandag toe is hy een van die mees gelese geestelike skrywers.

Die Verbreding van Hoofstraat » lidmate kom in opstand

  • Op 10 Februarie 1959 oorweeg die kerkraad ‘n versoek van die Munisipale Raad waarvolgens die ringmuur aan Hoofstraat se kant ongeveer 10 vt. agteruit geskuif moet word ten einde aan die statutêre vereistes vir die breedte van hoofroetes deur dorpe te voldoen. Die kerk-raad keur onder sekere voorwaardes die versoek in begin-sel goed, maar die saak maak emosies in die gemeente gaande. Een van die hoofredes is dat die ou grafte direk agter die muur verskuif moet word.
  • ‘n Protesvergadering word op 15 Junie 1959 gehou. Dit loop uit op ‘n afvaardiging deur beswaarmakers onder leiding van mnr. Guillaume Marais wat die administra-teur, dr. Otto du Plessis, gaan spreek. Dr. Du Plessis gee die beswaarmakers gelyk en weier die beoogde verskui-wing van die grafte.
  • Die Munispale Raad gebruik derhalwe ongeveer 3 vt. van die bestaande sypaadjie om die Hoofstraat effens te verbreed. Daarom is Hoofstraat voor die kerk smaller as die res van die straat, en sit dr. Andrew Murray se stand-beeld as ‘t ware met sy voete op die sypaadjie.

Die N.G. Sendingkerk

  • Hoewel sendingwerk reeds sedert die laaste jare van die agtiende eeu in die Wamakersvallei deur Jan Jacob van Zulch en andere onderneem is, kan die stigtings-datum van die Sendinggemeente in die Wamakersvallei as 1820 beskou word, ruim 20 jaar voor die N.G. Gemeente Wellington tot stand gekom het. Op 18 September 1820 is die sendingkerkgebou deur ds. J.W.L. Gebhardt, predikant van die N.G. Gemeente Paarl, ingewy.
  • Die bekende eerwaarde Isaac Bisseux van die Paryse Sendinggenootskap aanvaar in 1929 diens by hierdie gemeente en doen vrugbare werk tot sy aftrede in 1879. Met die verskuiwing van die swaartepunt van die gemeente na die dorp skenk die N.G. Moedergemeente ‘n erf op die hoek van Kerk- en Hoofstraat. Die doel hiermee is om die Sendinggemeente in staat te stel om ‘n nuwe kerkgebou op te rig. Hierdie gebou word op 20 September 1845 ingewy.
  • Die N.G. Sendingkerk in Suid-Afrika word op 5 Oktober 1881 in hierdie gebou gestig. Met die verloop van jare raak die gebou vervalle en te klein vir die gemeente. Dit word in 1940 vervang deur ‘n groter en meer doelmatige kerkgebou in Mellingstraat.
  • Die ou historiese kerkgebou word te midde van teen-stand en hartseer by ‘n groot deel van die gemeente afgebreek. Die N.G. Sendingkerk in S.A. onthul op 6 Oktober 1981die gedenkteken op hierdie terrein.

Die Marthasaal

  • Hierdie saal is oorspronklik gebou met geld wat mev. Martha le Roux, ‘n groot sendingliefhebber, geskenk het. Die saal het gestaan waar die kerksaal later gebou is.
  • Die dames van die gemeente kom egter in opstand teen die moontlike sloping van die gebou sodat die kerkraad verplig word om die gebou stuk-stuk af te breek en in Jan van Riebeeckstraat te herbou. ‘n Nuwe en beter voordeur word toe ingebou.

Inrigtings en Verenigings wat in die gemeente ontstaan het

  • Die Hugenote Seminarie, 1874 – waaruit ontstaan het
    o die (eerste) Hugenote Kollege, 1896/1907 – 1918
    o die Onderwyskollege, 1896 – 2000
    o die Hugenote Hoër Meisieskool 1874 – 1953
    o die Hugenote Hoërskool, 1954
  • Die Kerkskool, later Hoër Jongenskool, 1857 – 1953
  • Die Hugenote Universiteitskollege, 1919 – 1950
  • Die Hugenote Kollege, 1951
  • Die Sendinginstituut, 1877 – 1962
  • Friedenheim vir die opleiding van sending- en maatskap-like werksters, 1904-1950
  • Die Predikantesendingvereniging, 1886
  • Die Kinderkrans, 1890
  • Die Mannesendingbond, 1908
  • Die Vrouesendingbond, 1889
  • Die Girls’ Industrial School / Murray Kinderhuis / Huis Andrew Murray, 1898/1923
  • Inrigting vir Weeskinders uit die Anglo-Boereoorlog
  • Kerkjeugvereniging, 1951
  • Bybelkor, 1970 / Bybelmedia, 1991 / Lux Verbi.BM, 1999
  • Silwerkruin vir senior burgers (ACVV), 1970
  • Die Andrew Murray Prysfonds, 1979

Bekende Persoonlikhede

Talle alombekende persone was in ‘n stadium aan die gemeente verbonde, waarvan enkeles hier genoem word:

  • Piet Retief, lidmaat tot 1808 en een van die leiers van die Groot Trek van 1837 tot sy dood op 6 Februarie 1838.
  • Dr. Andrew Murray, leraar 1871-1906 en erkende inter-nasionale geestelik leier en skrywer.
  • Ds. M.L. de Villiers, matrikuleer aan die Hoër Seunskool Wellington 1901, behaal BA aan die Hugenote Kollege 1904, tree af op Wellington 1931 – bekende komponis, veral van Die Stem van Suid-Afrika, 1921.
  • Ds. C.F.B. (Beyers) Naudé, hulpleraar 1940-1942
  • Ds. D.W. de Villiers (Heilige Dawid), leraar 1944-1947, later professor aan die N.G. Teologiese Kweekskool te Stellenbosch gedurende 1966-1984 en gewilde prediker
  • Ds. D.J. (Dawie) de Villiers, leraar 1967-1969 en kaptein van die Springbok-rugbyspan 1965 en 1967-1970.
  • Dr. Frits Gaum, lidmaat 1971-1986, eerste direkteur van Bybelkor 1971-1986, redakteur van Die Kerkbode sedert 1986 en van Die Voorligter (Later Lig) sedert 1989.
  • Breyten Breytenbach, leerling tot 1957 en hoofseun aan die Hugenote Hoërskool, later ‘n bekende Afrikaan-se digter en skrywers.
  • P.H. Nortje, lidmaat vanaf 1954, bekroonde skrywer van jeug- en ander verhale.